Foto’s Michelle Parkin - Kosassistent Tani Kirsten

Gemmervark

Sawweboud!

Hierdie heerlik doeksagte varkgereg kan jy by die huis gaarmaak en vries – dan kan jy dit by die kampplek net vinnig oor die kole bros braai.

Jy benodig

  • 1 gerookte varkboud (gammon) van 1,5 kg, ontbeen
  • 3 wortels, grofgekap
  • 2 selderystele, grofgekap
  • 2 uie, geskil en middeldeur gesny
  • 4 koppies gemmerbier
  • 2 koppies water of aftreksel (gebruik hoender- of groenteaftreksel)
  • 5 swartpeperkorrels

Só maak jy

1. Sit die boud in ’n groot kastrol en voeg die wortel, seldery en ui by. Skink die gemmerbier in die pot en gooi dan water of aftreksel by totdat die vleis heeltemal bedek is deur vloeistof. Voeg die peperkorrels by.

2. Verhit die pot tot kookpunt, sit die deksel op (dit moet mooi styf pas) en verlaag die temperatuur tot die vloeistof saggies prut. Kook dit vir 1 uur voordat jy die vleis omtraai, die vloeistof aanvul en dit dan vir nog 1 uur stadig prut.

3. Haal die pot van die hitte af en laat die vleis in die vloeistof afkoel voordat jy dit uithaal. Draai die boud toe in kleefplastiek en bêre dit in die yskas of vrieskas. Gooi die vloeistof weg.

4. Sny die vel met ’n skerp mes af, maar maak seker jy behou die vetlagie. Haal die boud uit die yskas sodat dit kamertemperatuur kan bereik voor jy dit braai.

5. Braai die boud met die vetkant na onder oor matige kole totdat die vleis bruin en bros en deurwarm is. Sny dit in dun skywe en sit dit voor met die bosbessiesous (sien die resep hiernaas).


Weg Ry & Sleep Het jy dalk ’n groter of kleiner varkboud wat jy wil gaarmaak? Werk die kooktyd só uit: 30 minute per 500 g vleis, plus nog 30 minute.


Bosbessiesous

Lus vir ’n soetigheidjie?

Hierdie sous word tradisioneel saam met varkvleis voorgesit, maar by skaapvleis of hoender is dit ewe lekker.

Foto Michelle Parkin

Jy benodig

  • 1 eetlepel mielieblom 100 ml bosbessiesap (cranberry juice)
  • 1 flessie (150 g) bosbessiesous
  • 3 eetlepels marmelade
  • 3 eetlepels port of rooiwyn
  • 1 eetlepel dijonmosterd
  • 1 suurlemoen

Só maak jy

1. Meng die mielieblom met 2 eetlepels bosbessiesap tot ’n gladde smeer. Roer dit dan in ’n kastrolletjie by die res van die sap plus die bosbessiesous, marmelade, port en mosterd.

2. Verhit die mengsel oor louwarm kole en prut dit tot dit begin verdik. Gebruik ’n aartappelskiller om ’n reep suurlemoenskil te sny. Sit die skil in die potjie en prut die mengsel vir nog ongeveer 10 minute. Roer dit gereeld... en pasop vir aanbrand.

3. Skep die suurlemoenskil uit die sous en sit dit voor met skyfies warm of koue vark- of lamsboud.


Weg Ry & Sleep Hierdie sous kan jy by die huis maak en dit in ’n Ziploc-sakkie of flessie vries. Vat dit dan net so bevrore saam kampplek toe. 

Gebraaide lamsboud met ’n kruiemarinade

Mê-ê-ênse, maar dis lekker

Rek die lekkerte van ’n lamsboud oor die kole uit tot die volgende dag wanneer jy koue skyfies lam saam met mayonnaise en bosbessiesous (resep op vorige blad ) op ’n roosterkoek eet. Daarom is dit ’n slim plan om die varkboud op bl. 101 én lam gaar te maak, selfs al dink jy ook dis te veel vleis vir die Kerstafel.

Foto Michelle Parkin

Jy benodig

  • 1 lamsboud van 1,5 kg, ontbeen
  • ’n hand vol vars pietersielie, fyngekap
  • ’n klein hand vol vars origanum, fyngekap
  • 1 takkie vars roosmaryn, blaartjies afgestroop en fyngekap
  • 2 takkies ment, fyngekap
  • ½ koppie olyfolie
  • 4 knoffelhuisies, fyngerasper
  • sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • 3 eetlepels witwynasyn
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Vlek die lamsboud met ’n skerp mes sodat dit plat en min of meer oral ewe dik op die rooster kan lê. As jy twyfel, vra jou slagter.

2. Meng die pietersielie, origanum, roosmaryn en ment saam, en roer dan die olyfolie, knoffel en suurlemoenskil daarby in. Vryf die vleis oraloor in met die mengsel en sit dit dan in ’n groot bak of plastieksak. Drup die suurlemoensap en asyn oor en laat die vleis oornag in die yskas marineer óf vries dit om saam te neem kampplek toe.

3. Haal die vleis voor jy dit gaan braai uit die yskas en laat dit eenkant staan om kamertemperatuur te bereik. Geur die vleis oraloor met sout en swartpeper.

4. Braai die boud vir 5 minute met die velkant na onder oor warm kole – dit moet mooi bros en goudbruin wees. Draai die boud om en rooster dit vir nog 10 minute (as jy van jou vleis pienk hou – as jy dit gaarder verkies, braai dit vir nog ’n paar minute tot dit gaar is na jou smaak). Haal die vleis van die kole af.

5. Draai die boud in foelie toe en laat dit vir 15 minute eenkant rus voordat jy dit sny – sodoende maak jy seker die vleissap loop nie uit as jy die vleis sny nie. As die vleis plek-plek nog te pienk is vir jou, maak dit weer effens skrik oor die kole.


Weg Ry & Sleep As dit nie vir jou moontlik is om vars kruie te gebruik nie, vervang al die groen kruie in die resep met 1 flessie gekoopte pesto.

Spek-aartappels

Braai-braai riepa

Jy gaan nie jou bros Sondagaartappels mis as jy hierdie outjies in die kampterrein aanmekaarslaan nie!

Foto Michelle Parkin

Jy benodig

  • 3 eetlepels sonneblomolie
  • 2 uie, fyngekap
  • 250 g strepiespek, gesnipper
  • 8 groot wasagtige aartappels
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n lekker breë platboomswartpot of pan. Voeg die ui en spek by en braai dit oor matige kole vir 5 minute of totdat die vet uit die spek begin braai en die ui mooi sag en glansend is.

2. Skil intussen die aartappels en sny dit in blokkies van 2 cm.

3. Voeg die aartappels by die spekmengsel in die pot en roer alles een keer deur. Soteer nou die aartappels totdat dit plek-plek bruin en bros begin raak. Roer die mengsel sodra dit wil vasbrand, maar moenie die hele tyd karring nie, want dan gaan jy uiteindelik sit met kapokaartappel.

4. Geur die aartappels met sout en peper. Ná sowat 15-20 minute in die pan behoort die aartappelblokkies effens bros te wees met ’n heerlike spekgeur. Sit dit dadelik voor.


Weg Ry & SleepVir ekstra lekkerte kan jy ’n eetlepel of drie botter by die pot gooi wanneer jy die aartappels insit.

Groenboontjieslaai

Maak ’n kraak

In die somer is ’n mens nie altyd lus vir warm groente nie. Probeer gerus hierdie heerlike vars slaai.

Foto Michelle Parkin

Jy benodig

  • 300 g groenbone, gewas en puntjies afgesny
  • 300 g kersietamaties, middeldeur gesny
  • 2 wiele fetakaas
  • ’n hand vol vars basilie, grofgekap

VIR DIE SLAAISOUS

  • ½ koppie olyfolie
  • 2 eetlepels vars pietersielie (of gebruik 1 eetlepel droë pietersielie)
  • 4 eetlepels appelasyn
  • 1 knoffelhuisie, fyngerasper
  • 2 eetlepels fyngerasperde parmesaan
  • 1 eetlepel heuning

Só maak jy

1. Plons die groenbone in ’n potjie kookwater. Dreineer dit ná 1 minuut en spoel die bone onder lopende koue water af. Sit dit in ’n Tupperware-bak.

2. Meng die bestanddele vir die slaaisous saam en gooi dit dadelik oor die groenbone. Sit dit, indien moontlik, vir minstens 1 uur in die yskas voor jy dit voorsit. (Dit sal vir tot 4 dae in die yskas hou.)

3. Roer die kersietamaties, feta en vars basilieblare deur die bone en sit dit voor.


Weg Ry & Sleep Brosgebraaide spek maak hierdie slaai selfs nóg lekkerder.

Kampkoekstruif met Amarula

Afrika-poeding

Amarula-vla maak van hierdie poeding ’n wegholwenner!

Foto Michelle Parkin

Jy benodig

VIR DIE VANIELJEMUFFINS

  • 2 koppies bruismeel
  • 1 koppie suiker
  • ’n knippie sout
  • 1 groot eier
  • ½ koppie melk
  • 1/3 koppie sonneblomolie
  • 1 eetlepel vanieljegeursel

VIR DIE AMARULA-VLA

  • 4 eetlepels vlapoeier
  • 3 eetlepels suiker
  • 2 koppies melk
  • ½ koppie Amarula
  • 400 g aarbeie, in skyfies gesny
  • geklopte room om voor te sit

Só maak jy

1. Maak die muffins Verhit die oond tot 180 ºC. Meng die bruismeel, suiker en sout in ’n groot mengbak. Klits die eier, melk, olie en geursel in ’n aparte bak saam en roer dit deur die droë bestanddele totdat alles net-net ingemeng is.

2. Verdeel die beslag in die 12 holtes van ’n gesmeerde muffinpan en bak dit vir sowat 10 minute tot gaar. Laat die muffins heeltemal afkoel en draai dit dan styf toe in kleefplastiek voordat jy dit vries.

3. Maak die Amarula-vla Meng die vlapoeier en suiker met 3-4 eetlepels melk tot dit ’n gladde smeer vorm. Verhit solank die res van die melk in ’n kastrolletjie tot net onder kookpunt. Meng dan die vla-smeer daarby in en roer dit vinnig totdat dit verdik. Laat die vla vir 2 minute kook. Haal dit van die hitte af en roer die Amarula deur. Sit ’n stuk kleefplastiek of waspapier bo-op die vla om te keer dat dit ’n vel vorm terwyl dit afkoel.

4. Bou die koekstruif Sny die muffins in skywe en pak ’n laag daarvan in een groot bak of individuele glase of blikbekers. Skep ’n laag vla oor, gevolg deur ’n laag aarbeie en ’n laag geklopte room. Herhaal die lae met die res van die bestanddele. Hou die koekstruif koel tot dit tyd is om op te skep.


Weg Ry & SleepAs jy nie tyd het om die muffins te bak nie, kan jy bloot muffins of onversierde kolwyntjies koop en dit in skywe sny.