Vir 6

Voorbereityd 30 minute

Gaarmaaktyd 20 minute plus afkoeltyd 


Wie’t ooit gesê jy mag slegs vir Kersdag ’n trifle maak? En hierdie een vol somervrugte kan jy ’n dag of twee voor die tyd reeds in een groot bak óf in afsonderlike glase maak. 


Jy benodig 

Vir die bessievulsel

350 g bevrore of vars bessies

2 eetlepels suiker

2 eetlepels mielieblom

¼ koppie water

1 eetlepel suurlemoensap

Vir die koekvulsel

1 (280 g) onversierde Madeira-koek (of ’n enkellaagsponskoek)

450 g roomkaas

2/3 koppie ingedampte melk

2/3 koppie suiker

1½ koppie room

3 eetlepels versiersuiker 

3 eetlepels klapper 

Só maak jy

1. Meng die bessies, suiker, mielieblom, water en suurlemoensap in ’n klein kastrol. Laat dit oor ’n lae hitte prut tot verdik. (As jy nie van groot stukke vrugte hou nie, kan jy die bessies eers vooraf in stukkies sny of fyn druk.) Laat dit eenkant afkoel.

2. Sny die koek in blokkies. Klits die roomkaas, ingedampte melk en suiker met ’n elektriese menger tot dik en romerig en meng dit dan met die koekblokkies. 

3. Klop die room en versiersuiker in ’n aparte bak tot sagte punte vorm. Rooster die klapper in ’n pan tot goudbruin en roer dit deur die room.

4. Nou kan jy kies: een groot bak, of ses kleiner glasbakkies. Skep die helfte van die koekmengsel op die bodem gevolg deur die helfte van die bessievulsel en die helfte van die geklopte room. Herhaal die lae totdat al die bestanddele op is en verkoel dan die koekstruif vir minstens 3 uur voor bediening. Indien verkies, kan die bokant met klapperskaafsels of vars bessies versier word.