Pan ’n ronde vis

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 2 eetlepels botter
  • ½ ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 blikkies (213 g elk) salm of enige gaar wit vis
  • 1 koppie gaar patat of aartappel, fyngedruk
  • 1 groot hand vol vars koljanderblare, gekap
  • ’n knippie elk sout en rissievlokkies
  • ½ koppie fyn klapper (of gekapte grondboontjies)
  • skil van 1 suurlemoen
  • ’n hand vol broodkrummels olie vir vlakbraai

Só maak jy

1. Verhit die botter in ’n potjie en voeg die ui en knoffel by. Laat sweet nou die ui tot dit mooi sag en deurskynend is – dit moenie bruin word nie. Dreineer en vlok die vis en meng dit baie goed met die patat. Roer daarna die uie-en-knoffelmengsel, koljander, sout, rissie en klapper deur. Rasper laastens die suurlemoenskil daarby in.

2. Vorm 10-12 bolletjies met die vismengsel. Rol elke bolletjie in broodkrummels en vorm ’n koekie. Pak die koekies op ’n bord en sit dit vir minstens 1 uur in die yskas tot dit ferm is. Dit gebeur soms dat die koekies nie baie ferm wil raak nie – dit kan wees vanweë die vog in die groente. Meng dan sommer ’n hand vol krummels ook in. Die koekies kan ook tussen lae kleefplastiek gevries en dan bevrore gaargemaak word.

3. Verhit ’n pan met ’n dun lagie olie en braai die viskoekies tot goudbruin aan die een kant voor jy dit omdraai en ook die ander kant goudbruin braai. Sit die viskoekies voor met suurlemoenskyfies en ’n vars tamatieslaai.

Weg Ry & Sleep sê
As jy nie blikkiesvis gebruik nie en die vis eers gaarmaak, is die beste metode om dit liggies te stoom sodat die vis sappig en sag is. Maar moenie dat dit jou keer as jy net oorskietbraaivis het nie! Maak dit net goed fyn sodat daar nie heel stukke in die viskoekies is nie.