Vir 4 | Voorbereityd 10 minute | Braaityd 3 uur

Jy benodig

• 4 lamskenkels

• 1 klein ui, in dun ringe gesny

• 8 kort roosmaryntakkies (10 cm elk)

• 1 eetlepel fyn komyn

• 1 eetlepel fyn koljander

• 4 eetlepels olyfolie

• gemaalde seesout en swartpeper na smaak

• 1 heel knoffelbol

• 1½ koppies rooiwyn

• 2 koppies lam- of beesaftreksel

• 1 koppie rokerige BBQ-sous

Só maak jy

1. Kry die ketelbraai gereed met matige kole. Jy gaan die indirekte braaimetode gebruik. Krap die kole na die kante toe sodat die spasie in die middel oop is.

2. Pak die lamskenkels, uie en roosmaryn in ’n enkellaag in ’n metaaloondpan (wat direk op die rooster gesit kan word) of gebruik ’n groot platboompot. Vryf die komyn, koljander en olyfolie oraloor die vleis en geur dit ook na smaak met sout en swartpeper. Sny die knoffelbol horisontaal middeldeur en plaas dit saam met die rooiwyn en aftreksel by die lam. Bedek die bak met foelie of die pot met ’n styfpassende deksel.

3. Plaas die oondbak of pot bo-op die rooster in die ketelbraai en maak die ketelbraai toe met die deksel. Laat die lam vir 2 uur bak. Indien jy die temperatuur kan reguleer, mik vir nie meer as 160 ºC nie.

4. Haal die pot met die lamskenkels uit die ketelbraai. Maak weer kole in die ketelbraai.

5. Lig die lamskenkels versigtig uit die pot, smeer elkeen dik met die braaisous en braai dit stadig oor die kole vir 30 minute tot bros en taai buite, en doeksag binne