Foto’s: Michelle Parkin. Kosassistent: Tani Kirsten 

Boereworsfrikkadelle in tamatiesous

Proe die plaas

Jy kan net stukkies gebraaide wors deur die sous roer en dit opwarm vir ’n vinnige ete, maar dit smaak lekkerder as die vleis in die sousie gaar word.

Jy benodig

(genoeg vir 4-6)

  • 1 pak (500 g) spaghetti
  • 1 pak (800 g) boerewors
  • 1 eetlepel sonneblomolie
  • 1 fles (375 g) tamatie-pastasous
  • 2 vars tamaties, gekap
  • 1 eetlepel rissiesous
  • 1 koppie gerasperde cheddarkaas
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Kook die spaghetti volgens die aanwysings op die pakkie in ’n pot vol soutwater.

2 Druk die vleis uit die wors en maak klein frikkadelletjies daarvan. Pak die frikadelletjies in ’n pan met die olie en braai dit tot mooi goudbruin. Gooi die pastasous daarby en prut dit tot warm en gaar.

3 Sit die frikkadelle en sous voor met die pasta, vars tamatie, rissiesous en kaas.

Weg Ry & Sleep sê
As jy nie pasta byderhand het nie, kan jy die frikadelle en sous oor krummelpap voorsit. 


Biltong-en-feta-pastaslaai

’n Anderster soort slaai

Hou dié resep byderhand vir ’n vinnige, maklike en smaaklike ligte middagete in die kampterrein.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 250 g rigatonipasta
  • 200 g biltong, fyngekerf
  • 10 ingemaakte pikantrissies
  • 2 wiele fetakaas, gekrummel
  • 50 ml pekelwater van die pikantrissies
  • 30 ml olyfolie
  • ½ rooiui, fyngekap
  • sout en swartpeper na smaak
  • vars kruie (opsioneel)

Só maak jy

1 Kook die pasta volgens die aanwysings op die pakkie in ’n groot pot vol soutwater.

2 Meng die biltong, pikantrissies en fetakaas deur die pasta.

3 Klits die pekelwater en olyfolie goed saam en roer die ui by. Geur dit met sout en peper na smaak, en gooi dit oor die pastaslaai. Garneer dit met vars kruie.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan ook 2 koppies gekapte blaarslaai deur die slaai meng indien verkies.


Ontbytpasta

Goeie môre, my sonskyn!

Die kinders sal hierdie pasta vir ontbyt én aandete eet.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 250 g macaroni
  • 500 g varkworsies of chipolatas
  • 4-6 eiers 2 blikkies gebakte boontjies
  • 1 rooi brandrissie, fyngekap
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Kook die macaroni volgens die aanwysings op die pakkie in ’n groot pot met soutwater.

2 Braai die varkworsies in ’n pan tot gaar, skep dit uit en sny dit in skyfies. Bak nou die eiers volgens jou smaak.

3 Roer die gebakte boontjies, brandrissie en worsies deur die pasta en geur dit na smaak met sout en swartpeper. Verhit dit tot deurwarm en sit dit voor met ’n gebakte eier.

Weg Ry & Sleep sê
Vir aandete kan jy die eiers weglaat. Bedek die pasta met kaas nadat alles gemeng is, en verhit alles tot deurwarm.


Kaas-en-mieliesous-hoenderpasta

Bederfkos met oorskiet

Vir dié vinnige kamppasta kan jy ook sommer oorskiet- braaihoender gebruik.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 4 hoenderborsies
  • 4 mielies
  • 1 pak (500 g) pennepasta
  • 500 ml witsous (tuisgemaak of gekoop)
  • 1-2 koppies beleë cheddarkaas, gerasper
  • 1 teelepel rooipeper
  • 1 teelepel gerookte rissievlokkies
  • sout en swartpeper na smaak
  • hand vol vars basilie (opsioneel)

Só maak jy

1 Geur die hoender en mielies met sout en peper. Braai die hoender tot mooi goudbruin en kook die mielies tot net-net gaar. Kook die pasta volgens die aanwysings op die pakkie.

2 Meng die witsous en kaas deur die gaar pasta en geur dit na smaak met rooipeper, rissievlokkies, sout en peper.

3 Vlok die hoender in stukkies en sny die mieliepitte van die stronk af, en meng dit dan deur die pasta. Garneer dit met vars basilie.

Weg Ry & Sleep sê
Tuisgemaakte witsous en goeie kaas maak hierdie pasta ekstralekker, maar gebruik gekoopte sous as jou tyd skraps is.


Olyf-en-tuna-pastaslaai

Vinnig, maklik en heerlik

Hierdie pasta is een van my kampstaatmakers omdat jy nie ’n yskas nodig het nie.

Jy benodig

(genoeg vir 4-6)

  • 1 pak (500 g) pastaskroefies
  • 100 ml Griekse vinaigrette (of iets soortgelyks) – ons het PnP s’n gebruik
  • 1-2 blikkies (170 g elk) tuna ’n hand vol kalamata-olywe
  • 2 heel tamaties, in blokkies gesny (of gebruik ’n koppie kersietamaties wat jy middeldeur sny)
  • 2 koppies slaaiblare soos roket of babaspinasie (opsioneel)
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Kook die pasta volgens die aanwysings op die pakkie in ’n groot pot met soutwater. Dreineer die pasta en gooi die slaaisous oor terwyl die pasta nog louwarm is. Laat dit eenkant afkoel.

2 Meng die tuna, olywe en tamaties deur die pasta. Roer laastens die slaaiblare deur, geur dit na smaak met sout en paper, en sit dit dadelik voor.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan ook kaasblokkies, pikantrissies, gekapte komkommer en vars rissies by dié slaai voeg.


Beesvleisragu-potjie

Op die been

Vleis met die been in sorg vir die lekker geur van die potjie, maar dit jy kan dit ook met ghoelasjblokkies vervang.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 30 ml sonneblomolie
  • 1 kg stowebeesvleis aan die been
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 wortels, fyngekap
  • 250 g sampioene, in dun skyfies gesny
  • 1 bottel (400 g) tamatie-pastasous
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Verhit die olie en braai die beesvleis in sarsies bruin. Skep die vleis uit en hou dit eenkant.

2 Soteer die uie tot amper sag, voeg die wortel en sampioen by, en braai alles saam tot goudbruin.

3 Laat die potjie mooi prut en voeg dan die pastasous, knoffel en die vleis by. Sit die deksel op en prut dit vir 2-3 uur totdat die vleis sag is en van die been afval. Geur die vleis na smaak met sout en peper.

4 Trek die vleis van die been af en bedien dit met gaar pasta.

Weg Ry & Sleep sê
Vries die sous in Ziploc-sakkies en verhit dit by die kamp net vinnig in die potjie.