Die beste deel is dat wanneer jy die gaar aartappel se buitekant liggies met ’n mes tik, dit oopkraak sodat jy by die doeksagte binnekant kan uitkom.

Jy benodig:

’n driepootpot (’n no. 4 is geskik)

2 kg aartappels

1,5 liter kookolie

1,5 liter kraanwater

Só maak jy:


Stap 1: Skil die aartappels, maar moet hulle nie deursny nie – die aartappels moet heel wees.


Stap 2: Maak ’n vuur op die grond en sorg dat daar ’n goeie halfmeter rondom die vuur skoon is – die pot gaan olie mors sodra dit begin kook. Krap ’n hoop baie warm kole uit wanneer daar genoeg is, en hou die vuur langsaan aan die gang.


Stap 3: Sit die potjie op die kole en skink tegelykertyd ewe veel koue olie en kraanwater in die pot. Voeg die aartappels dadelik by en maak seker die vloeistof bedek hulle heeltemal.


Stap 4: Krap genoeg kole onder die pot in sodat die inhoud sommer woes kook. Namate die water kook, gaan dit baie spat en stoom maak – wees versigtig. Dit behoort sowat 45-60 minute te neem om dié punt te bereik. Moenie aan die aartappels karring terwyl hulle braai nie; dit gaan net verbrokkel en aanbrand.


Stap 5: Wanneer al die water weggekook het, kan jy nog kole onder die pot uit krap. Maak deurentyd seker dat die inhoud konstant prut.


Stap 6: Ná nog 45-60 minute behoort die aartappels goudbruin te wees met ’n bros buitelagie en ’n sagte binnekant. Skep die aartappels een-een met ’n gaatjieslepel op kombuispapier uit sodat die oortollige olie kan dreineer. Laat dié wat nog nie mooi gebraai het nie nog ’n bietjie verbruin, en as ’n aartappel teen die rand van die pot vassit, kan jy hom net liggies met die lepel loswikkel.


WENK: Die hele gedoente het minder gemors as wat ons verwag het, maar volg steeds Marica se raad en maak hierdie aartappels slegs in die buitelug.