Lammetjie-uitnek

Jy benodig

(genoeg vir 8)

  • 1 lamsblad of ribstuk van 1,2 kg
  • 1-2 rooi brandrissies, grofgekap
  • 4 knoffelhuisies, in kwarte gesny
  • 2-3 eetlepels gekoopte masala-kerriesmeer
  • 1 eetlepel fyn klapper
  • 3 uie, in dik skywe gesny
  • kookolie vir braai
  • 2 lourierblare
  • 1 botteltjie (330 ml) bier
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 koppie klappermelk
  • 2 eetlepels vars suurlemoensap

Só maak jy

1. Sny met ’n skerp messie ’n paar diep kepe oraloor die vleis en druk die knoffel en brandrissiestukkies daarin. Meng die kerriesmeer en klapper en vryf die vleis oraloor daarmee in. Sit die blad in die yskas sodat dit oornag kan marineer. (Haal dit die volgende dag vroegtydig uit sodat dit kamertemperatuur is wanneer jy dit gaarmaak.)

2. Steek die vuur aan en maak matige kole. Pak intussen die uie in ’n dik laag onderin ’n swartpotjie saam met ’n titsel kookolie en die lourierblare. Sit die vleis nou op dié bed neer, skink die bier teen die kant van die potjie af en geur dit na smaak met sout en swartpeper.

3. Sit die deksel op en plaas die pot bo die kole – onthou ’n paar kooltjies vir die deksel. Potbraai die vleis rustig vir sowat 3 uur of tot die lam gaar en sag is – ek verkies dat dit nie heeltemal uitmekaarval en rafel nie. (Jy kan ná so ’n uur loer en die vleis bedruip, maar probeer om dit nie te gereeld oop te maak nie.) Vul die kole aan deur die gaarmaaktyd.

4. Roer die klappermelk by die potjie en verhit dit tot deurwarm. Proe en geur dit met suurlemoensap en nog sout en peper na smaak, en sit dit dan voor saam met rys. Vars koljander is ’n opsionele ekstra.

Weg Ry & Sleep sê
Die sukses van hierdie resep het baie te doen met die kerriesmeer – kies dus een wat geurig of sterk genoeg is vir jou smaak.