Vir 4 | Voorbereityd 5 minute | Kooktyd 30 minute 

Jy benodig

  • 800 g lamskruisskyfsteaks
  • 8 roosmaryntakkies
  • ’n klein bossie tiemietakkies
  • ½ koppie olyfolie
  • 4 teelepels growwesout
  • gemaalde swartpeper
  • 6 preie, gewas
  • 6 klein bete, gewas

Vir die rooiwynsous

  • 4 eetlepels botter
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 sakkie (25 g) demi-glace
  • 1 koppie rooiwyn
  • 4 eetlepels room

Só maak jy

1. Sorg dat die lamsvleis kamertemperatuur is. Stroop die blare van 4 roosmaryntakkies en 4 tiemietakkies af en meng dit met twee eetlepels olyfolie. Vryf die kruie en olie deeglik in die vleis in en geur dit na smaak met sout en swartpeper. Sprinkel die res van die olie oor die preie en beet.

2. Kry kole gereed in ’n ketelbraai en hou ’n foeliebak of vuurvaste oondbak gereed waarin die vleis in ’n enkellaag kan pas, want jy gaan die indirektehitte-braaimetode gebruik.

3. Pak die preie en beet op die rooster en braai dit oor warm kole totdat die buitekant plek-plek swart raak. Haal die groente af en pak dit in die oondbak of foeliebak en voeg die oorblywende kruie daarby.

4. Plaas nou die vleis met die vetkant na onder oor die kole en braai dit vir sowat 6-10 minute sodat die vet kan begin uitbraai.

5. Haal die vleis af en pak dit dan met die vetkant na bo – bo-op die groente en kruie in die oondbak.

6. Krap die kole na die kante toe sodat daar ’n oopte in die middel is en plaas die bak direk daaroor. Sit die ketelbraai se deksel op en laat dit vir 20 minute bak.

7. Haal die lam uit en laat dit eenkant onder ’n los stuk foelie rus vir 15 minute.

8. Maak intussen die rooiwynsous: Smelt die botter in ’n pan of klein kastrol en voeg die knoffel daarby en soteer dit liggies tot sag. Sodra die knoffel geurig is, voeg die demi-glace en rooiwyn by en laat dit prut vir minstens 5 minute sodat die sous effens kan verdik. Roer die room by en bedien dadelik.

9. Sny dan die vleis in porsies en bedien met dit die geroosterde groente en rooiwynsous.

Wenk
Demi-glace is basies ’n baie gekonsentreerde vleisaftreksel wat sonder veel moeite ’n heerlike sous lewer. Indien jy nie demi-glace in jou spens het nie, sal 2 eetlepels worcestersous ook deug.