My ma droog Alberta-perskes wat sy van die boom in haar tuin pluk en gebruik dit dan vir ’n heerlike soetsuur smaak in haar sosaties. Jy kan ook droë appelkosies – die lekker suur soort – gebruik.

Vir doeksagte kerriesosaties wat jou tone laat omkrul, moet jy 3-4 dae voor die tyd begin sodat die vleis behoorlik kan marineer. Moenie skaam wees om ’n vetjie tussen die vleis in te werk nie, en gebruik appelkose of perskes wat goed suur is. Indien die vleis self nie baie vet aan het nie, koop 100 g varkvet en gebruik dit saam met die vleis. (Dit raak morsig – bedek jou werkoppervlak met ’n laag kleefplastiek en gebruik plastiekhandskoene.)

Vir 4 |Voorbereityd 1 uur plus marineertyd| Gaarmaaktyd 10 minute

Jy benodig

• ¼ koppie olie
• 2 uie, in skywe gesny
• 1½ eetlepel kerriepoeier
• 1 teelepel borrie
• 1 teelepel fyn koljander
• ½ koppie suiker
• 3 eetlepels perskeblatjang
• 1½ koppie bruinasyn
• ½  koppie water

VIR DIE SOSATIES

• 1 kg ontbeende lamsvleis met vet
• 100 g droë Alberta-perskehalwes
• 16 vars lourierblare (opsioneel)
• 8 metaalsosatiestokkies

Só maak jy

1. Maak eers die marinade: Verhit die olie in ’n middelslag-kastrol en soteer die ui en kerrie vir 5 minute oor ’n baie lae hitte. Voeg die res van die bestanddele by en verhit die marinade tot kookpunt. Sit die deksel op en laat dit vir 20 minute prut. Laat die marinade dan eenkant staan om heeltemal af te koel.

2. Sny die vleis in blokkies van 2 cm en behou die vet. Pak dit in ’n plastiek- of glasbak (nie metaal nie!) saam met die appelkose en lourierblare en skink die afgekoelde marinade daaroor. Laat dit vir drie dae in die yskas staan om te marineer.

3. Ryg die vleis, perskes en lourierblare losweg op die sosatiestokkies. Sorg dat daar minstens een stukkie perske en een stukkie vet vir elke twee vleisblokkies is. Pak die sosaties in ’n braaibak en gooi die marinade bo-oor. Hou dit in die yskas tot 1 uur vordat jy dit wil braai – dit moet kamertemperatuur wees as jy dit oor die kole sit.

4. Sorg dat jou kole lekker warm is en braai die sosaties vinnig vir 8-10 minute tot goudbruin en sappig.