Jy benodig (genoeg vir 4)

  • 1 lamsrak (sowat 850 g) – maak seker daar is 8 beentjies (2 vir elk)

VIR DIE BLATJANG

  • 2 uie, fyngekap
  • 2 eetlepels olie
  • 3 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 brandrissie, gekap
  • 1 stuk (2 cm) vars gemmer, geskil en gerasper
  • ’n ruim knypie fyn naeltjies
  • 2 lourierblare
  • 1 teelepel masalakerriepoeier
  • 2 eetlepels suiker
  • 2 eetlepels tamarynsmeer (tamarind paste) – óf gebruik ’n geurige blatjang
  • 1 koppie kokende aftreksel

Só maak jy

1. Maak die blatjang Braai die ui in die olie tot dit sag en glansend is. Roer die knoffel, rissie en gemmer by en braai dit vir nog ’n minuut of twee tot geurig. Roer nou die speserye, suiker en tamarynpuree by tot alles goed deurgemeng is. Roer laastens die aftreksel by en prut die mengsel tot dit dik en glansend word.

2. Sny enige oortollige vet van die lamsrak af sodat die vetlaag egalig is. Gebruik ’n skerp mes en maak snytjies oraloor die vetlaag sonder om in die oog van die vleis te sny – die Engelse noem dit scoring. Vryf die vleis in met sout en varsgemaalde swartpeper plus ’n knippie droë kruie as jy dit byderhand het.

3. Braai die lamsrak tot goudbruin – begin met die vetkant. Jy kan ’n gietysterpan oor die kole gebruik, maar pasop vir vet wat in die vuur beland – dit kan vlam vat. Hier moet jy wakker braai. Sodra die vet mooi bruin is, laat staan die rak regop op die been en braai dit vir 10 minute – dit sal gaaf wees as jy ’n deksel of braaibak oor die vleis omkeer sodat dit amper ’n oondjie vorm.

4. Draai nou die vleis om sodat die ribbene ondertoe en die vet boontoe wys, en braai dit vir nog 15-20 minute in jou kamma-ketelbraai. Die mikpunt is mooi pienk vleis met ’n bros, bruingebraaide vetlagie. Sit dit voor met die tuisgemaakte blatjang.

Ry & Sleep sê: In die klassieke Franse kookkuns word die bene van so ’n lamsrak ge-“French”, wat beteken die lekkerste vet vleisie word afgesny sodat die rak bene wys. Dis jou keuse...

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook