Resepte en stilering Aletta Lintvelt | Kosassistent Merrill Buckley


Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 500 g lamsmaalvleis
  • 2 wiele fetakaas, gekrummel
  • 1 teelepel droë gemengde kruie
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 ui, gekap
  • 1 eetlepel olyfolie
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • ½ teelepel elk rooipeper, fyn komyn, gerookte rissie en origanum
  • 1 blik (400 g) gekapte tamatie
  • 1 eetlepel tamatiesous
  • ½ koppie water

Só maak jy

1. Meng die maalvleis, feta en kruie goed deur en geur dit na smaak met sout en swartpeper. Vorm frikkadelle met die mengsel en hou dit eenkant.

2. Verhit die olie in ’n platboomswartpot of gietysterpan met ’n deksel en braai die ui daarin tot dit sag en glansend is. Voeg die knoffel, rooipeper, komyn, rissie, origanum, tamatie en tamatiesous by en prut alles saam vir 10 minute. Gooi die water by om dit effens te verdun.

3. Pak die frikkadelle in die sous, sit die deksel op en sit die pot oor die kole. Bak die frikkadelle vir 10 minute voordat jy dit versigtig omdraai en vir nog 5 minute bak tot mooi gaar.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan die frikadelle én sous by die huis maak en in aparte Ziploc-sakkies vries om saam te neem.