Kosassistent Tani Kirsten

’n Skapie in sitrusdal

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels olie
  • 1 kg lamskenkels, in skywe gesaag
  • sout en swartpeper na smaak
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 25 ml tamatiepasta
  • 3 takkies vars tiemie (of gebruik 1 teelepel droë tiemie)
  • 1 blik (410 g) tamatie-en- uiesmoor
  • fyngerasperde sap en skil van 2 lemoene
  • 1 koppie lamsaftreksel
  • 12 jong worteltjies2 eetlepels koekmeel

Só maak jy

1 Verhit die olie in ’n swartpot en braai die vleis tot dit oraloor mooi goudbruin is. Geur dit met sout en peper soos jy dit braai. 2 Voeg die knoffel, tamatiepasta, tiemie en smoor by die gebraaide skenkels. Gooi die lemoensap by en prut die vleis vir 1 uur oor lae hitte met die deksel op. Dit is belangrik dat die pot baie liggies prut en nie voluit kook nie, want dit maak die vleis taai. Gooi ’n bietjie aftreksel by as die pot te droog lyk.

3 Voeg die wortels by en prut die pot vir nog 30 minute met die deksel op (of tot die wortel gaar is). Hou die pot dop en voeg nog ’n bietjie aftreksel by, indien nodig.

4 Meng die meel met 4 eetlepels aftreksel en roer dit tot dit ’n smeer vorm. Roer ’n bietjie van die warm potjiesous by die meelmengsel en roer dit dan weer terug in die pot. (Dié stap keer dat die meel klonte maak.) Roer alles goed deur en prut dit vinnig vir 5 minute totdat die sous verdik. Roer laastens die vars lemoenskil by. Proe en geur dit na smaak met sout en peper.
Weg Ry & Sleep sê
Enige stoweskaapvleis sal ook werk vir hierdie resep – maak net seker daar is nie te veel vet aan die vleis nie.