Vir 6 | Voorbereityd 10 minute | Kooktyd 20 minute 

Jy benodig

Vir die sosaties

  • 1 kg lendestuk
  • 1 teelepel gerookte paprika
  • 1 teelepel borrie
  • 2 teelepels fyn komyn
  • 1 teelepel fyn kaneel
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • ½ suurlemoen
  • 4 eetlepels olyfolie
  • seesout en gemaalde swartpeper na smaak

Vir die soetrissie

  • 1 eetlepel komynsaadjies
  • 4-6 eetlepels olyfolie
  • 6 rooi of geel soetrissies, in repe gesny
  • 1 teelepel fyn kaneel
  • 2-3 eetlepels harissasmeer
  • 4 eetlepels heuning
  • 1 eetlepel rooiwynasyn
  • seesout en gemaalde swartpeper na smaak
  • ½ klein bossie pietersielie, fyngekap

Só maak jy

1. Sny die vleis in 4 cm-blokkies en plaas dit saam met al die bestanddele in ’n bak of Ziploc-sakkie. Vryf die speserye goed in of skud die sak ’n paar keer, en laat dit teen kamertemperatuur rus vir 1 uur.

2. Verhit ’n wye platboompot of pan oor die kole tot matig warm en braai die komynsaad daarin tot geurig.

3. Voeg die olie en soetrissie by die pan en roerbraai dit vir 10 minute.

4. Voeg die kaneel, harissa, heuning en asyn daarby en geur dit na smaak met sout en peper. Roer vir nog 2 minute, haal van die hitte af en sprinkel die pietersielie daaroor.

5. Braai die sosaties oor matige hitte vir ongeveer 3 minute aan elke kant.

6. Stroop die vleis van die stokkies af en bedien dit saam met die soetrissie. Sit dit voor saam met Griekse jogurt en ’n vars komkommer-rooiui-en-tamatieslaai en vars brood