Koolhidraat kwadraat

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • kookolie vir diepbraai
  • 12 jong aartappeltjies, middeldeur gesny
  • 1 ui, in ringe gesny
  • 350 g maalvleis
  • 1 eetlepel brijani-masala
  • 1-2 groen brandrissies, ontpit en fyngekap
  • 1 koppie jasmynrys
  • 1 blik (410 g) lensies, gedreineer
  • 2 koppies hoender- of groenteaftreksel
  • 200 g peul- of gewone ertjies

Só maak jy

1. Verhit omtrent 2 cm olie in ’n potjie en braai die aartappels in sarsies tot goudbruin. Skep hulle uit en braai nou die uieringe in dieselfde olie bruin. Skep dit ook uit op kombuispapier sodat die olie kan dreineer. Die braaiery klink oordadig, maar dit sorg vir ’n heerlike geur in die uiteindelike gereg. (Jy kan ook die groente vlakbraai.)

2. Gooi die olie uit die potjie en los ’n leksel waarin jy die maalvleis braai tot mooi goudbruin. Geur die vleis met die masala en brandrissie, en roer die rou ryskorrels by. Roer die mengsel tot die ryskorrels oraloor met olie bedek is en braai dit vir 2 minute.

3. Roer die lensies, gebraaide aartappel en ui, en die aftreksel by die vleis. Sit die deksel op en prut die potjie oor lae hitte vir sowat 15 minute tot die rys so te sê gaar is. (Lees die aanwysings op die ryspakkie as jy onseker is). Haal die pot van die hitte af, geur die potjie na smaak met sout en roer die ertjies by. Stoom die pot vir nog omtrent 10 minute met die deksel op tot al die geure goed vermeng is.

Hierdie potjie is heerlik met ’n lepeltjie ongegeurde jogurt en, as jy wil, vars koljanderblare.

Ry & Sleep sê
’n Skeut vars suurlemoensap help altyd om die geure te lig. Jy kan ook vars gemmer en knoffel byvoeg as jy die maalvleis braai.