Mooi Griekeland

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 2 middelslag-eiervrugte
  • ¼ koppie olyfolie
  • 2 uie, fyngekap
  • 1 kg beesmaalvleis
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 lourierblare
  • 1 eetlepel droë origanum
  • 1 blikkie (410 g) gekapte Italiaansgegeurde tamaties
  • 4 eetlepels tamatiepasta
  • ½ koppie droë rooiwyn
  • sout en gemaalde swartpeper
  • 1 pakkie (40 g) sampioensous (ons het Royco s’n gebruik)
  • 1 koppie gerasperde cheddar

Só maak jy

1. Sny die eiervrug in skywe van 1 cm en verf dit aan albei kante rojaal met olyfolie. Braai dit op ’n rooster oor matige kole tot goudbruin aan albei kante.

2. Soteer die ui in ’n klein pot met die res van die olyfolie. Voeg die maalvleis by en braai dit tot goudbruin. Roer die knoffel, lourier, origanum, tamatie, tamatiepasta en rooiwyn deur die maalvleis en prut alles saam vir 30 minute. Proe en geur dit na smaak met sout en swartpeper.

3. Pak ’n enkellaag eiervrugskywe in ’n middelslag-platboompot. Skep van die maalvleismengsel daarop. Herhaal die lae eiervrug en maalvleis tot alles opgebruik is.

4. Maak die sous aan volgens die instrukies op die pakkie en giet dit oor die moussaka. Sprinkel die kaas oor, sit die deksel op die pot en bak dit vir 45 minute oor matige kole.

Weg Ry & Sleep sê
As jy ’n ryker moussaka verkies, kan jy die pakkie sampioensous met room aanmaak.