Vir 4 | Voorbereityd 10 minute plus marineertyd | Kooktyd 10 minute 

Jy benodig

  • 800 g lamstjops

Vir die kerriesous

  • 1 klein ui, in ringe gesny
  • 2 eetlepels Kaaps-Maleise kerriemengsel
  • 6 eetlepels (90 ml) witasyn
  • 6 eetlepels (90 ml) witsuiker
  • 6 eetlepels (90 ml) water
  • 2 eetlepels olie
  • 100 g pakkie droë mango, gekap
  • seesout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit al die bestanddele (ook die mangostukke) vir die kerriesous tot kookpunt en roer dit totdat die suiker gesmelt het. Haal dit van die hitte af en laat dit afkoel.

2. Gooi die afgekoelde kerriesous oor die lamstjops en laat dit marineer totdat jy braai. ’n Dag of twee in die yskas sal die vleis goed sag maak, maar as jy net ’n uur het, sal dit steeds propvol geur wees.

3. Sorg dat die tjops kamertemperatuur is voordat jy dit braai. Verwyder die tjops uit die sous en braai dit vir ’n paar minute aan elke kant oor matige kole totdat dit gaar is volgens jou smaak.

4. Verhit intussen die oorblywende marinade in ’n pan oor die vuur. Bedien die gaar tjops met die warm kerriesous en mangostukke