Die speserykombinasie in hierdie resep is so reg uit Noord-Afrika. Verras jou mense met ’n Marokkaanse feesmaal!


Vir 6 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 20 minute

Jy benodig

• 1 eetlepel botter
• 1 ui, gekap
• 500 g maalvleis (bees of lam)
• 3 knoffelhuisies, fyngekap 
• ½ teelepel borrie
• 1 teelepel droë gemmer (of gebruik 2 cm vars gemmer, gerasper)
• 1 teelepel rissievlokkies (of gebruik 1 vars rissie, gekap)
• 1 teelepel droë kojander (of gebruik 1 eetlepel gekapte vars koljander)
• ½ teelepel fyn komyn
• ½ teelepel fyn kaneel
• ¼ teelepel neutmuskaat
• ¼ teelepel fyn naeltjies
• 3 eetlepels gekapte macadamianeute
• 3 eetepels goue sultanas
•  gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen

Só maak jy

1. Verhit die botter in ’n pan en braai die ui vir 5 minute. Voeg dan die maalvleis en knoffel plus al die speserye by en roerbraai die mengsel vir ’n paar minute oor hoë hitte totdat die vleis verbruin.

2. Voeg die neute en sultanas by en hou aan roerbraai totdat die neute begin verkleur. Haal die pan van die hitte af. Rasper die skil van die suurlemoen oor die maalvleis en druk die sap daaroor uit.

3. Skep die maalvleis in ’n bak en sit dit voor saam met platbroodjies (kry die resep hier) of pitabrood; ’n smeer soos roomkaas, hummus of tzatziki; en ’n vars slaai.

WENK: Verf ’n heel eiervrug met olyfolie en braai dit op die rooster tot die vleis binne-in sag is. Sit die warm eiervrug saam met die maalvleis op die brood voor.