Maak: 2 terte | Voorbereityd: 2 dae | Gaarmaaktyd: 30 minute

Jy benodig 

VIR DIE KORS 

• 250 g yskoue Ladismith-botter, gerasper 

• 2 koppies meel 

• ¾ teelepel kremetart 

• ’n knippie sout 

• 1 eier 

• ½ koppie yswater 

• 1 eetlepel brandewyn 

VIR DIE VULSEL 

• 1 liter melk (plus 60 ml ekstra) 

• 3 eetlepels Ladismith-botter (of volvet-margarien) 

• 2 eetlepels mielieblom 

• 1 eetlepel vlapoeier 

• 2 eetlepels meel 

• 1 koppie suiker 

• 4 eiers, geskei 

• 1 eetlepel vanieljegeursel 

• ’n knippie sout

Só maak jy 

1.  Maak die kors: Werk die helfte (125g) van die koue botter met jou vingerpunte baie liggies deur die droë bestanddele. 

2.  Klits die eier, yswater en brandewyn saam en meng dit liggies by die meel-en-bottermengsel in. 

3.  Druk die deeg in ’n bol saam en laat dit ’n dag lank in die yskas rus voordat jy dit op ’n meelbestrooide oppervlak papierdun uitrol. 

4.  Maak die oorblywende botter sag deur dit vir enkele sekondes in die mikrogolfoond te verhit. Smeer die sagte botter oor die uitgerolde deeg, vou die deeg op en sit dit vir 12 uur in die yskas. 

5.  Sny die stuk deeg in twee, rol albei dié slag ’n bietjie dikker (2-3mm) uit, vou dit weer op en rol dit nog ’n laaste keer uit. 

6.  Sny die deeg in twee sirkels en voer twee gesmeerde tertpanne daarmee uit. 

7.  Maak die vulsel: Kook die melk in ’n groot kastrol saam met die botter. 

8.  Meng die mielieblom, vlapoeier, meel en suiker met 60 ml melk tot glad. Klits dit by die melk in en laat dit kook tot dit verdik. 

9.  Klits die eiergele saam, klits dit dan vinnig by die mengsel in en laat dit vir nog 2 minute kook. Haal dit dadelik van die hitte af en roer die vanieljegeursel deur. 

10.  Klits die eierwitte baie styf en vou dit saam met die knippie sout by die mengsel in. 

11.  Verdeel die mengsel gelyk tussen die twee tertkorse en bak dit vir 30 minute teen 180 °C. Laat die terte in die oond afkoel met die oonddeur toe.

DEEL JOU MELKTERTFOTO'S EN WEN!

Vanjaar kan jy danksy Ladismith groot pryse wen met jou melktertfoto’s.

1. Kry ’n melktert in die hande tussen 1 en 28 Februarie 2019!

2. Neem ’n foto. Plaas die foto op jou Facebook-blad of Instagram-profiel en merk dit #mymelktert2019 en #ladismith

3. Eet (die res van) die melktert.

Wat kan jy wen? Eerste prys: ’n Weeklange vakansie langs die Wildekus ter waarde van R20 000! 

Lees meer hier.