Luilekker laatontbyt

Dokter gerus hierdie roerbraai met knoffel, vars gemmer en brandrissie na smaak.

Jy benodig

(genoeg vir 6 )

  • 4 hoenderborsfilette, elk in 6 repe gesny
  • 2 eiers, geklits
  • ½ koppie meel
  • 200 g kasjoeneute, fyngekap
  • 300 g roerbraaigroente soos vlapampoentjies, peul-ertjies en babamielies
  • 3 eetlepels grondboontjieolie
  • 300 g eiernoedels, gekook
  • 3 eetlepels soetsuur roerbraaisous
  • 3 sprietuie, fyngekap

Só maak jy

1. Rol die hoenderrepe eers in die meel, dan in die eier en daarna in die neute. Hou dit eenkant.

2. Was die groente en sny die groteres (soos die vlapampoentjies) in skyfies.

3. Steek die skottelbraai aan en verhit die olie. Braai die hoender stadig tot mooi bros. Hou die hitte liefs laag, want jy wil nie die neute brand of rou hoender eet nie. Sodra die hoender ’n mooi kleur het, skuif dit na die koeler rand van die skottel en braai die groente tot dit ook bruin en gaar is. Draai die hitte nou effens op.

4. Roer die noedels, braaisous en sprietuie by die pan en skraap weer die hoender nader. Meng alles saam tot geurig en gaar.

Ry & Sleep sê
Skuif die noedels opsy in die pan en maak roereier van die oorskieteier waarin jy die hoender gekrummel het. Meng dit dan deur die hoender-en-groente en sit dit voor.