Maak 4 hamburgers | Voorbereityd 20 minute | Gaarmaaktyd 6 minute

Jy benodig

VIR DIE PATTIES

• 500-600 g ribsteak of kruisskyf (met vet)
• 1 eetlepel oestersous
• 8-10 kalamata-olywe, ontpit
• 6 Cream Crackers, gekrummel (of ’n halwe hand vol broodkrummels)
• ½ teelepel Engelse mosterdpoeier
• 1 teelepel fyn komyn
• 1 eier, geklits
• 1eetlepel soja- of worcestersous (of sout na smaak)
• ¼ teelepel gemaalde swartpeper
• 1-2 knoffelhuisies, fyngekap
• 2 eetlepels gekapte koljanderblare (of roketblare)
• olyfolie vir braai

OM VOOR TE SIT

• 4 vars rolletjies, gebotter
• 4-6 eetlepels mayonnaise
• roketblare, skoongewas
• ekstra olywe

Só maak jy

1. Gebruik ’n baie skerp mes en kap die vleis baie fyn. Die geheim is om tekstuur te behou, maar te sorg dat die vleis fyn genoeg gekap is dat die hamburgerpattie nie uitmekaar val as alles gemeng is nie. Kap die olywe ook grof.

2. Meng al die bestanddele vir die patties goed saam en vorm met jou hande vier patties. Sit dit in die yskas totdat die vleis ferm is.

3. Smeer die patties goed met olyfolie en braai dit vir ongeveer 3 minute aan die een kant. Dit is belangrik om nie die patties om te draai of daaraan te karring voordat minstens 3 minute verby is nie – jy wil nie hê dit moet uitmekaar val nie.

4. Draai die patties dan om en smeer die bokant goed met braaisous. Braai die ander kant ook vir 3 minute, draai dit weer om en smeer die bokant met braaisous. Haal dit van die hitte af en laat die vleis vir 2 minute rus. 

5. Sny solank die rolletjies en rooster die gesnyde kant onder ’n oondelement of oor die kole. Smeer dit dik met mayonnaise en plaas dan die warm pattie, roketblare en ekstra olywe daarop.

WENK: Krummel ’n bietjie feta- of bloukaas bo-oor die vleis op die hamburger – dit smaak vorentoe!