Dié vinnige pastei werk soos ’n  tarte tatin: Die hoendervulsel word met ’n deeg bo-op gebak en dan omgekeer en voorgesit met die deegkors aan die onderkant – soos ’n tert. 

Só maak jy

1. Verhit die oond tot 180 ºC. Smelt die botter in ’n oondvaste pan en braai die hoender, sampioene en murgpampoentjies apart tot dit net-net gaar en geurig is. Roer dan alles saam in die pan.

2. Roer nou die meel en kruie by en braai alles deur. Geur die mengsel na smaak met sout en peper en roer laastens die room by. Verhit die mengsel tot kookpunt en laat vir ’n paar minute prut. Haal die pan van die hitte af en laat die mengsel effens afkoel.

3. Vou die blaardeeg op ’n skoon oppervlak oop en rol dit effens dunner, indien nodig, sodat die deeg groot genoeg is om ’n sirkel uit te sny wat die hele pan bedek. Tel die deegsirkel bo-op die hoendervulsel en vou die kante mooi teen die rand van die pan in sodat die vulsel lekker knus in plek bly. (Onthou, dit kan krimp soos dit bak.) Prik met ’n mespunt ’n gaatjie in die middel van die deegdeksel sodat die stoom kan ontsnap, en bak dit vir 25-35 minute of tot goudbruin en gaar. Laat die pastei vir 10 minute staan voordat jy dit omkeer en in skywe sny