Vir 4 | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 30 minute

Jy benodig

• 25 mossels, skoongemaak
• 1 koppie louwarm hoenderaftreksel
• ’n knippie saffraandrade (opsioneel)
• ½ teelepel gerookte paprika
• 250 g gerookte spek, fyngekap
• 1 ui, gekap
• 2 eetlepels botter
• 300 g paellarys (soos arborio)
• ½ glas witwyn
• 1 rooi soetrissie, gekap
• 1 blikkie (370 g) gekapte tamaties
• ½ koppie ertjies
• ½ teelepel sout
• 2 eetlepels gekapte pietersielie

Só maak jy

1. Spoel die mossels deeglik af onder lopende water. Indien jy die bevrore soort gebruik, maak seker hulle is heeltemal ontdooi.

2. Meng die louwarm hoenderaftreksel, saffraan en paprika en hou dit eenkant.

3. Gebruik ’n diep gietysterpan met ’n deksel wat styf pas of ’n no. 2-swartpot om die ui en spek goudbruin te braai. Voeg die botter en rys by, gee dit ’n roer en skink dan die wyn daarby. Voeg die soetrissie, tamatie, ertjies, sout en aftreksel by en roer deur. Pak die mossels bo-op die rys en bedek met ’n deksel wat styf pas. 

4. Plaas die pot oor matige warm kole, sit 3 kole bo-op die deksel (of in ’n oond teen 180 ºC) en los dit doodstil vir 15-18 minute. Daarna kan jy loer, die pietersielie deurroer en proe of die rys gaar is. Dit moet al dente wees – ferm maar nie meer kryterig nie. Gooi die mossels weg wat nie oopgegaan het nie. Voeg nog sout na smaak by en sit dit dadelik voor.