Foto’s Myburgh du Plessis  

Patats met jogurtkaas

Patatplesier

Jogurtkaas kan jy enige plek maak. Jy dreineer bloot dik ongegeurde jogurt oornag buite ’n yskas in ’n vadoek. Die volgende dag eet jy die kaas met gebakte patats uit die vuur.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 kg Griekse jogurt
  • ¼ koppie olyfolie
  • 1 teelepel brandrissievlokkies
  • 1 teelepel vars tiemieblaartjies
  • 2 eetlepels gekapte pietersielie
  • 6 patats
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Gooi die jogurt in ’n skoon vadoek, bring die punte van die doek bymekaar en hang die vadoek iewers buite die yskas op met ’n bak onder dit. Laat dit oornag dreineer. Krap die jogurt die volgende oggend uit en sit dit in die yskas.

2 Verhit die olyfolie, rissievlokkies, tiemie en pietersielie saam tot lou – dit moenie kook nie. Haal dit van die hitte af en hou dit eenkant.

3 Draai die patats in foelie toe en bak dit oor matige kole tot sag.

4 Bedien die gebakte patats met die joghurtkaas en die gegeurde olie.

Weg Ry & Sleep sê
Die jogurtkaas wat jy nie dadelik eet nie, kan jy in bolletjies rol en in ’n glasflessie pak. Bedek dit met olyfolie en hou dit vir 1-2 weke in die yskas.


Varkvleis in piesangblare

Lékker deur die blare

Dié varkboud word toegdraai en direk in louwarm kole gestoom tot sag. Trek dit dan in repe en sit dit voor met uie, salsa en wraps.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 1 kg varkblad of -boud
  • ’n piesangblaar of drie

VIR DIE MARINADE

  • ¼ koppie rooiwynasyn
  • ½ koppie olyfolie
  • 4 eetlepels bruinsuiker
  • 1 eetlepel fyn komyn
  • 1 eetlepel rooipeper
  • 1 eetlepel gerookte rissievlokkies
  • 1 eetlepel droë origanum
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Meng al die bestanddele vir die marinade en marineer die varkboud oornag daarin. Draai die volgende oggend die vleis in stukke piesangblare toe en gebruik tou om dit stewig vas te bind in ’n netjiese pakkie.

2 Sit die pakkie in ’n ketelbraai en gebruik die indirekte gaarmaakmetode – dit beteken die kole word na die kante toe gekrap en is nie direk onder die vleis nie. Die ketelbraai moenie te warm wees nie – ongeveer 130-150 ºC. Sit die deksel op en stoom die vleis vir 3-4 uur. Dit is reg wanneer jy dit maklik met ’n vurk uitmekaar kan trek.

3 Gebruik twee vurke en skeur die varkvleis in repe – in Engels noem hulle dit “shredded pork”. Gooi enige marinade wat oorgebly het, oor die vleis. Sit dit warm voor met wraps, tamatiesalsa en gesnyde uie.

Weg Ry & Sleep sê

As jy nie piesangblare het nie, gebruik bakpapier en draai dit daarna ook in foelie toe.


Pakkies met hoender, olywe, feta en pikantrissie

Sappig verby

Hoenderborsies is ’n uitstekende bestanddeel om in ’n pakkie gaar te maak, want die vleis bly lekker sappig en die olywe en rissies sorg vir hope geur.

Jy benodig

(genoeg vir 4) 

  • 4 hoenderborsies
  • 16 olywe
  • 8 pikantrissies (peppadews)
  • 2 wiele fetakaas
  • 1 teelepel origanum
  • 4 eetlepels olyfolie
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Sit die hoenderborsies elkeen op sy eie stuk bakpapier. Verdeel die res van die bestanddele tussen die 4 pakkies en geur dit na smaak met sout en peper. Draai elke pakkie losweg toe in foelie.

2 Bak die pakkies vir ongeveer 10 minute oor matige kole en laat dit dan vir 5 minute rus voor jy dit voorsit.

Weg Ry & Sleep sê

As jou hoenderborsies nie ontbeen is nie, sal dit langer vat om gaar te word.


Vispakkies met paprika en suurlemoen

Viskriklik lekker!

Vis smaak uitstekend wanneer jy dit só in ’n pakkie gaarmaak.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2-4 klein heel visse, skoongemaak – ons het snapper gebruik
  • 1 soetrissie, gekap
  • 1 suurlemoen, in dun skyfies gesny
  • ½ koppie botter, in blokkies gesny
  • 1 eetlepel paprika
  • 1 teelepel rooipeper
  • 1 teelepel gerookte rissievlokkies
  • 1 teelepel droë origanum
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Was die vis met skoon water. Druk dit droog met kombuispapier en sit elke vis in die middel van ’n stukkie bakpapier neer.

2 Druk die soetrissie en suurlemoen in die vis se buikholte. Geur die vis met die speserye en druk ’n paar blokkies botter in elke vis se buikholte.

3 Draai die vis toe in die bakpapier en dan ook losweg in foelie. Bak dit vir ongeveer 10 minute in ’n ketelbraai oor matige kole met die deksel op.

4 Skeur die vispakkies oop op ’n bord en sit nog ’n blokkie botter by voor jy dit voorsit.

Weg Ry & Sleep sê

Die baktyd hang af van hoe groot die vis is – loer ná 8 minute vir ’n klein vis en ná 15 minute vir ’n groter een.


Rooikool-en-spekpakkies

Die kool ís die sous werd, ja!

Hierdie warm “slaai” het my mening oor kool op sy kop gekeer. Dit kan warm of selfs teen kamertemperatuur geniet word.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 3 eetlepels olyfolie (plus ekstra om oor te sprinkel)
  • 2 eetlepels rooiwynasyn
  • 2 eetlepels gekapte pietersielie
  • 1 klein rooikool, fyngesnipper
  • 6 repe spek, in stukkies gesny
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Meng die knoffel, olyfolie, asyn en pietersielie saam en hou dit eenkant.

2 Sit die kool en spek op ’n stuk foelie en geur dit liggies met sout en peper. Drup ’n bietjie olyfolie oor en draai die foeliepakkie toe.

3 Braai die pakkie vir 15 minute of tot die kool én spek gaar en geurig is. Skeur die pakkie oop en drup van die knoffelolie oor. Sit dit voor terwyl dit nog effens warm is.

Weg Ry & Sleep sê

Die kool kan jy vervang met spinasie of enige ander groente van jou keuse.


Blikbekergarnale

Nie net vir koffie nie

Hierdie garnale word in blikbekers met knoffelbotter gestoom en dan doop elkeen sy of haar broodjie daarin.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 24 garnale
  • 1 koppie botter
  • 6 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 teelepel seesout
  • 6 eetlepels gevlokte amandels
  • 3 eetlepels gekapte pietersielie
  • swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Maak die garnale skoon – trek die dermpie uit en breek die kop en stert af.

2 Verdeel die botter en die res van die bestanddele tussen die 4 blikbekers en pak hulle oor die kole sodat die botter kan smelt.

3 Sit 6 garnale in elke blikbeker en bedek die bek van die blikbeker met ’n stukkie bakpapier of foelie wat jy met tou vasbind.

4 Stoom die blikbekers vir 4 minute oor warm kole – as die garnale pienk raak, is hulle reg.

5 Sit die warm garnale en botter voor met ’n lekker brood waarmee jy daardie heerlike knoffelsous kan opvee.

Weg Ry & Sleep sê

Sit ’n knippie rooipeper of gekapte vars rissie by as jy van ’n byt hou