Genoeg vir 6-8 as bygereg | Bereidingstyd: 20 minute | Gaarmaaktyd: 40 minute  

Jy benodig

• 12 skywe pampoen

• 1 rooiui, in wiggies gesny

• 3 eetlepels olyfolie

• 2 wiele romerige fetakaas

• ’n hand vol babaspinasieblare

VIR DIE DUKKAH

• ¼ koppie sesamsaad, gerooster

• ½ koppie geroosterde grondboontjies, fyngekap

• ½ koppie fyn wildsbiltong

• 1 teelepel fyn koljander

• ½ teelepel fyn komynsaad

• sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 200 ºC. Rangskik die pampoenskywe en uiewiggies op ’n bakplaat, drup die olie oor en bak dit vir 25 minute. Draai die pampoenskywe om, verhit die roosterelement en rooster die groente vir nog sowat 15 minute tot dit oraloor mooi goudbruin en gekaramelliseer is. Draai die skywe af en toe om soos nodig.

2. Meng die bestanddele vir die dukkah saam en meng die helfte daarvan deur die gaar groente. Krummel die feta by en sprinkel die spinasieblare oor. Sit dit voor as ’n warm bygereg met die ekstra dukkah byderhand. Dit is ook heerlik om die laaste geurigheid met ’n stukkie potbrood op te vee!