Vir 4 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 30 minute


Enige vis kan só in ’n pan oor die vuur gaargemaak word. Hou ’n stukkie brood byderhand om in die romerige sousie te doop. Jy kan ook visfilette gebruik –verkort dan die gaarmaaktyd.


Jy benodig

• 2 eetlepels botter
• 1 rooi-ui of 4 salotte, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 1-2 vinkelbolle, in dik skywe gesny
• 1 klein forel of ander ferm vis
• 1 koppie room
• varsgemaalde swartpeper na smaak
• sout na smaak


Só maak jy

1. Smelt die botter in ’n pan en laat sweet die uie, knoffel en vinkel daarin tot dit glansend en amper sag is. Moenie dat dit enigsins bruin braai nie. 

2. Sit die vis in die pan, sit die deksel op en braai dit oor matige hitte vir 15 minute of totdat die vis amper gaar is.

3. Gooi die room, swartpeper en sout by en laat dit prut.

4. Haal die pan van die hitte af sodra die vis gaar is. Sit porsies vis voor met kapokaartappel.


WENK: Maak vispatee met die oorskiet: Gooi die gevlokte vis, gaar vinkel, uie en roomsous in ’n voedselverwerker en pols dit fyn. Geur dit na smaak met sout en suurlemoensap. Rek die patee deur maaskaas of roomkaas deur te roer. Die patee vries goed in bakkies – ontdooi dit oornag in die yskas voor jy dit gebruik.