As jy dié slaai reg verpak vir die rit, is die stryd teen verlepte blare halfpad gewonne. Volg hierdie metode om die beste uit jou verpakte slaai te kry. Die algemene reël is om nat bestanddele en die sous onder in die fles te pak en dit dan te volg met ’n laag droër bestanddele (soos kaas) voordat jy die blare en kruie en enige bros bestanddele soos neute of croutons heel bo-op pak waar dit droog en vars kan bly. 

1. Verhit die oond tot 200 °C. Sny die soetrissie middeldeur en verwyder die pitte. Vryf die soetrissie met ’n eetlepel of twee olyfolie en rooster tot sag in die oond – ongeveer 20 minute. Trek die skil af indien verkies en sny in happiegrootte stukke.

2. Meng die warm soetrissies met die res van die olyfolie, rooiui, tiemie, kappertjiesaad, rooiasyn en kersietamaties.

3. Kook die pasta volgens die instruksies op die pakkie tot al dente. Dreineer en geur na smaak met sout en swartpeper. Laat eenkant om af te koel.

4. Skep die pasta onderin die fles of bak. Rangskik die soetrissie en tamatie bo-op die pasta. Pak die feta bo-op die soetrissie-en-tamatielaag, dan die basilieblare en eindig met die amandels.

5. Hou die fles of bak regop in die yskas tot bediening. Keer dan bloot die hele toetie uit op ’n opdienbord. Hierdie metode om die slaai te verpak verseker dat die neute en blare vars en bros bly en dat die pasta onder in die sous marineer sonder dat die res van die slaai pap raak