Sleep vlerk

Jy benodig

(genoeg vir 4 as happie)

  • 20 hoendervlerkies
  • ½ koppie gewone jogurt
  • 1 teelepel masala of kerriepoeier
  • 1 teelepel appelkooskonfyt
  • 1 teelepel koekmeel
  • 1 eetlepel dijonmosterd
  • ½ koppie bier
  • ¼ koppie geroosterde klapper

Só maak jy

1. Knip die vlerkies se punte met ’n skerp skêr af. Knip daarna die vlerkie by die lit middeldeur en hou dit eenkant. (Die punte haak meer aan die rooster as wat hulle tot die eetervaring bydra – gooi dit dus liefs weg.)

2. Klits die jogurt, masala, konfyt, meel en mosterd saam en meng dan die bier by om ’n gladde sous te maak. Meng die sous deur die hoender en laat dit vir ongeveer 1 uur marineer terwyl jy die vuur stook vir kole.

3. Braai die souserige vlerkies oor matige kole vir sowat 20 minute of tot dit gaar is met ’n mooi kleur. Verf gereeld van die marinade aan. Geur dit met sout en swartpeper. 

4. Strooi laastens die klapper oor en laat waai!

Ry & Sleep sê
Jy kan ook die gebraaide vlerkies terug in die braaibak met oorskietmarinade sit en dit dan met die deksel op vir ’n paar ekstra minute oor die kole stoom – sodoende kry jy ’n souseriger happie. Strooi heel laaste die klapper oor. 
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook