Kaptein Sardyn

Jy benodig

(genoeg vir 4-6)  

  • 1 blikkie (410 g) tamatie- of rissiesardyne (pilchards) 
  • ½ ui, fyngekap 
  • 1 eier 
  • 4 snye brood, grofgerasper 
  • sout en peper na smaak 
  • 2 eetlepels olie 
  • 4 eetlepels tamatiesous 
  • 4 eetlepels blatjang 
  • 4-6 broodrolletjies 
  • slaaiblare en tamatie- en uieskywe

So maak jy

1. Dreineer die sous van die sardyne en verwyder al die grate – werk rustig en stadig, want die ruggraat is bros en breek maklik. Breek die sardyne in stukkies en meng dit met die gekapte ui, eier en broodkrummels. Dié mengsel moet styf wees en nie uitmekaarval nie. Geur die mengsel goed met sout en peper.

2. Verhit die olie in ’n pan. Vorm 4-6 patties deur die mengsel in bolletjies te rol wat net-net groter is as ’n gholfbal en hulle dan plat te druk. Panbraai die patties versigtig oor matige hitte in die warm olie – sowat 4 minute aan elke kant.

3. Meng die tamatiesous en blatjang vir jou burgersous – jy kan selfs brandrissiesous na smaak bygooi.

4. Laat elkeen sy of haar eie burger maak soos hulle daarvan hou – met slaaiblare en tamatie- en uiskywe, en met of sonder sous.

Weg Ry & Sleep sê
Hierdie vinnige en maklike burgers jaag jou baie minder uit die sak as die wegneemburgers by die strandkafee.