Resepte en stilering Aletta Lintvelt | Kosassistent Merrill Buckley

Jy benodig

(genoeg vir 8)

  • 1 lamsblad of -boud met die been in (2-3 kg) 
  • ¼ koppie olyfolie
  • 1 koppie witwyn
  • 1 koppie lamsaftreksel
  • 3 takkies roosmaryn
  • 5 knoffelhuisies
  • 1 blik (410 g) kekerertjies
  • 2 vars tamaties, in blokkies gesny
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Plaas die vleis met die vetkant na bo in ’n platboompot. Sprinkel die olyfolie oor en vryf die vleis oraloor daarmee in. Gooi die wyn en aftreksel versigtig langs die vleis in die pot, en sit dan die roosmaryn en knoffel daarin. Bedek die pot met foelie en sit die deksel op (dit moet styf pas).

2. Sit die pot oor louwarm kole – die temperatuur moet laag wees – tussen 110 ºC en 120 ºC. Dit sal 7-8 uur neem voor die vleis van die been afval.

3. Maak die pot oop en roer die kekerertjies en tamatie deur die sous. 4 Trek die vleis met ’n vurk van die been af en in stukke, en sit dit voor met rys of pap. Geur dit na smaak met sout en peper.

Weg Ry & Sleep sê

Jy kan hierdie lamspot ook in ’n ketelbraai maak – sorg net dat die temperatuur laag bly.

Haal die deksel en foelie teen die einde af en bak dit vir die laaste uur met die pot oop, maar met die ketelbraai se deksel op. Dan braai die vet mooi bros en die sous word lekker dik.