1. Verhit die olie in ’n platboompot waarin die blad pas en braai die vleis oraloor tot goudbruin en bros. (Jy kan dit ook oor warm kole braai.)

2. Haal die pot van die hitte af, skep die vleis uit en rangskik die ui saam met die knoffel in ’n eweredige laag op die boom. Geur die vleis oraloor met sout en swartpeper, en plaas dit terug in die pot. Voeg die dadels, lourieblare, tiemie, kaneel en rissievlokkies by.

Giet die aftreksel oor en sit ’n gefrommelde stuk bakpapier bo-op, gevolg deur die deksel. (Die bakpapier is ’n ou Franse gebruik – dit vertraag verdamping, wat maak dat die sous stadiger afkook en dus meer gekonsentreer word.)

Laat die potjie vir sowat 3 uur stadig oor matige kole op ’n staaldriehoek potbraai – onthou om ’n paar kooltjies bo-op die deksel te pak.

3. Haal die deksel af en bedruip die blad met die pansappe. Voeg die wortels by en glaseer die vleis met die melasse of dadelstroop en asyn. Laat die potjie vir nog 30-60 minute prut totdat die wortels sag is. Sit die lam voor met gebraaide aartappels of jou gunstelingstysel.

Die bladbeen maak die snywerk moeilik – dis makliker om die stroperige vleis in groot stukke voor te sit. 

WENK
Dadelstroop en granaat-melasse is heerlike toevoegings tot jou spens vir ’n sweempie soet in ’n gereg. As dit egter te volksvreemd na jou smaak is, kan jy dit gerus met heuning vervang


Word deel van die Weg-wêreld 

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook