Foto’s Jan Ras / Kosassistent Tani Kirsten

Beesvleis-en- groenboontjiepotjie in ’n sjerriesous

Groenboontjie kry sy loontjie

Foto Jan Ras

As jy nie vars groenboontjies kan kry nie, werk die bevrore soort baie goed vir dié resep.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels olie
  • 750 g stowebeesvleis, in blokkies gesny
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 1 koppie mediumroom-sjerrie
  • 1 roosmaryntakkie (of gebruik 1 teelepel droë roosmaryn)
  • 1-2 koppies biefaftreksel
  • 4-6 middelslag-aartappels, geskil en in kwarte gesny
  • 300 g groenboontjies

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n swartpot en braai die vleis in sarsies bruin – geur elke sarsie met sout en swartpeper soos wat jy dit braai en hou dit eenkant soos wat jy die gaar vleis uitskep.

2. Braai die ui in dieselfde pot tot sag en geurig maar nie bruin nie, en voeg dan die knoffel en tamatiepasta by. Braai die mengsel vir ’n minuut saam.

3. Voeg die sjerrie, roosmaryn en vleis by. Gooi dan genoeg aftreksel by sodat die vleis net-net bedek is. Sit die deksel op en prut die pot vir sowat 45 minute. Voeg dan die aartappels by en prut vir nog 30 minute of tot die aartappels amper sag is.

4. Roer die groenboontjies by sodra die vleis en aartappels sag is en prut dit vir 10-15 minute. Hou die deksel af as dit nog baie souserig is óf gooi nog aftreksel by as die vloeistof te min raak.

Weg Ry & Sleep sê
Die kuns is om die vleisblokkies vinnig oor ’n hoë hitte te braai sodat die vleis seël en die sappe binne bly. Moet dus nie te veel blokkies op een slag probeer braai nie, want dan gaan dit stoom eerder as braai en nie net water trek nie, maar boonop taai raak.



Foto Jan Ras

Soetsuur hoender met appelkose

Appelkoostroos

Kinders is lief vir hierdie soeterige pot – maar ek het grootmense ook al sien twee keer skep.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

50 ml olie

8 hoenderporsies (ons het dytjies en boudjies gebruik)

1 groot ui, in skyfies gesny

2 rooi soetrissies, in repe gesny

1 sakkie (415 ml) soetsuur sous (ons het Royco Sweet & Sour Cook-in Sauce gebruik)

150-250 ml hoenderaftreksel

10 droë appelkose

sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n swartpot en braai die hoender vinnig daarin bruin. Skep die hoender uit en hou dit eenkant.

2. Braai die ui tot sag. Roer die soetrissies daarby in en braai dit vir nog 2 minute saam. Gooi die soetsuur sous daarby en skep dan die hoender terug in die pot. Gooi net genoeg van die aftreksel by om die hoender te bedek. Sit die deksel op en prut die pot vir 30-45 minute oor matige hitte tot die hoender amper gaar is. Deur die pot stadig te prut maak jy seker die hoender kom van die been af los eerder as dat dit taai en droog word.

3. Roer die droë appelkose by en prut die pot vir nog vir 15 minute totdat die hoender sag en gaar is. Sit dit voor met rys.

Weg Ry & Sleep sê
Hoender met die vel en been is altyd smaakliker as die ontvelde en ontbeende soort. Vir hierdie resep werk dytjies en boudjies die beste. 



Lamsvleis-en-lemoenpotjie

’n Skapie in sitrusdal

Lemoen en lam is ’n heerlike kombinasie – as jy sorg dat die hitte matig bly terwyl jy die vleis prut, sal dit doeksag wees.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels olie
  • 1 kg lamskenkels, in skywe gesaag
  • sout en swartpeper na smaak
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 25 ml tamatiepasta
  • 3 takkies vars tiemie (of gebruik 1 teelepel droë tiemie)
  • 1 blik (410 g) tamatie-en- uiesmoor
  • fyngerasperde sap en skil van 2 lemoene
  • 1 koppie lamsaftreksel
  • 12 jong worteltjies
  • 2 eetlepels koekmeel

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n swartpot en braai die vleis tot dit oraloor mooi goudbruin is. Geur dit met sout en peper soos jy dit braai.

2. Voeg die knoffel, tamatiepasta, tiemie en smoor by die gebraaide skenkels. Gooi die lemoensap by en prut die vleis vir 1 uur oor lae hitte met die deksel op. Dit is belangrik dat die pot baie liggies prut en nie voluit kook nie, want dit maak die vleis taai. Gooi ’n bietjie aftreksel by as die pot te droog lyk.

3. Voeg die wortels by en prut die pot vir nog 30 minute met die deksel op (of tot die wortel gaar is). Hou die pot dop en voeg nog ’n bietjie aftreksel by, indien nodig.

4. Meng die meel met 4 eetlepels aftreksel en roer dit tot dit ’n smeer vorm. Roer ’n bietjie van die warm potjiesous by die meelmengsel en roer dit dan weer terug in die pot. (Dié stap keer dat die meel klonte maak.) Roer alles goed deur en prut dit vinnig vir 5 minute totdat die sous verdik. Roer laastens die vars lemoenskil by. Proe en geur dit na smaak met sout en peper.

Weg Ry & Sleep sê
Enige stoweskaapvleis sal ook werk vir hierdie resep – maak net seker daar is nie te veel vet aan die vleis nie.



Foto Jan Ras

Boerewors-en- sampioenpotjie met pap

Heerlik – dís nou maar wors!

Hierdie maklike resep kan jy met oorskietbraaiwors maak.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels olie
  • 700 g boerewors
  • 1 groot ui, gekap
  • 250 g sampioene, gesny
  • ½ koppie droë witwyn
  • 10 jong aartappels
  • 1 pakkie (26 g) kitsbruinsous (ons het Knorr Instant Gravy gebruik)
  • ’n halwe kop broccoli, in blommetjies gebreek
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n swartpot en braai die wors tot dit goudbruin en gaar is. Skep die wors uit, sny die wors in happiegrootte stukkies en hou dit eenkant.

2. Soteer die ui en sampioen in die wors se sous tot sag. Roer dan die wyn en aartappels daarby in.

3. Maak die pakkie bruinsous aan volgens die aanwysings op die pakkie en roer dit deur die pot.

4. Prut die potjie vir 20 minute en roer dit gereeld sodat dit nie vasbrand nie. Voeg die broccoli by, geur die pot met sout en peper, en prut dit vir nog 10 minute tot gaar.

5. Skep die wors terug in die pot en verhit dit tot alles mooi deurwarm is. Sit dit voor met krummelpap.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan enige tyd die broccoli met spinasie of groenbone vervang, indien verkies.



Foto Jan Ras

Varknekpotjie

Otjie-potjie vir die hele lotjie

Hierdie heerlik smaaklike potjie laat ’n mens dink aan ’n Hongaarse bredie. As jy nie van vark hou nie, gebruik blokkies stowebeesvleis.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 eetlepels olie
  • 750 g varknek, in blokkies gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • ½ teelepel brandrissievlokkies
  • 2 teelepels paprika
  • 1 teelepel fyn komyn
  • 1 blik (410 g) tamatiesmoor met groen soetrissie
  • 6-8 jong patats, heel of middeldeur gesny
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1. Verhit die olie in ’n swartpotjie en braai die vleis vinnig tot goudbruin. Voeg die knoffel en speserye en tamatiesmoor by en prut dit vir 30 minute oor lae hitte. Voeg ’n bietjie water by, indien nodig.

2. Pak die patats bo-op die vleis en prut dit vir nog 30 minute of tot die vleis én patats doeksag is. Sit dit voor met vars brood.

Weg Ry & Sleep sê
Moenie bekommerd wees oor die brandrissie in die resep nie – dit is baie subtiel en die gereg het glad nie ’n byt nie.



Foto Jan Ras

Sjokoladecroissantpoeding

Franse flair vir poeding

Hierdie is nou die een ding waarvoor daardie goedkoop pakke croissants in die supermark goed werk.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 2 eetlepels botter
  • 6 croissants, middeldeur gesny
  • 1 plak (80 g) donkersjokolade, in stukkies gekap
  • 3 eiers plus nog 3 eiergele
  • 1 koppie suiker
  • 1½ koppie melk  
  • ½ koppie room

Só maak jy

1. Smeer ’n platboomswartpot met die botter en pak die croissantstukke losweg in die pot. Sprinkel die helfte van die sjokolade bo-oor.

2. Klits die eiers, eiergele, suiker, melk en room goed saam en giet dit oor die croissants. Laat dit vir minstens 10 minute staan om in te trek – effens langer is selfs beter. Sit die deksel op en bak die poeding oor matige kole (onthou ’n paar kole op die deksel) vir 30-45 minute of tot die eiermengsel gestol het.

3. Sprinkel die res van die sjokolade oor en sit dit voor met vla of roomys.

Weg Ry & Sleep sê
As jy nou rêrig dekadent wil wees, smeer ’n dik laag sjokolade- smeer (soos Nutella) aan die middeldeurgesnyde croissants voordat jy met die resep voortgaan.