Vir: 2 | Voorbereityd: 10 minute | Gaarmaaktyd: 20 minute

Jy benodig

  • 2 uie, in dun skywe gesny
  • 2 eetlepels botter plus ekstra vir braai
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1-2 teelepels gedroogde rissievlokkies
  • 1 koppie rooiwyn
  • 1 eetlepel tamatiepasta
  • 1 koppie kersietamaties, fyngekap
  • ½ koppie beesvleisaftreksel
  • 4 eetlepels worcestersous
  • 200g steak, kamertemperatuur
  • 2 skywe emmenthaler
  • 4 snye brood, aan albei kante gebotter

1. Braai die uie in die botter tot tot sag en geurig en roer dan die knoffel, rissievlokkies, rooiwyn, tamatiepasta en kersietamaties daardeur. Laat die mengsel prut en die meeste van die vloeistof verdamp – vir ongeveer 10 minute. Roer dan die aftreksel en worcestersous daardeur en laat prut dit weer totdat die sous redelik verdik en die meeste van die vog verdamp het. Proe en voeg nog rissie na smaak by.

2. Sny intusen die steak in twee eweredige stukke en druk dit met jou hand platter. Geur na smaak met sout en swartpeper en braai in ’n warm pan vir 2 minute aan ’n kant. Verwyder die steak uit die pan en plaas op ’n bord.

3. Plaas die skywe kaas op die brood, plaas die vleis bo-op met ’n skeppie van die pregosous, maak ’n toebroodjie en braai dit in botter in ’n pan (of oor ’n braairooster) totdat die brood bros en kaas gesmelt is. Bedien die broodjie dadelik op bros aartappelskyfies met ektra pregosous.