Bedien ’n vars broodrolletjie of tjips saam daarmee sodat jou gaste iets het om die pregosousie mee op te vee. Die pregosous werk ook as ’n braaimarinade vir steak of burgers.

Foto: Myburgh du Plessis



Vir 4

Voorbereityd 30 minute

Gaarmaaktyd 90 minute



Jy benodig 

• 2 kg ribbetjies

PREGOSOUS

• 2 uie, in dun skywe gesny

• ¼ koppie botter

• 1 koppie rooiwyn

• 4 knoffelhuisies, gekap

• 1-2 eetlepels rissievlokkies

• 2 teelepels vars oreganumblaartjies

• 3 eetlepels tamatiepassata

• 1 koppie kersietamaties, gekap

• 1 blokkie beesvleisaftreksel 

• ¼ koppie worcestersous

Só maak jy

1. Braai die uie in die botter tot sag en meng dan die wyn by. Laat prut totdat die helfte van die sous verdamp het. Voeg dan die res van die bestanddele by en laat die mengsel prut totdat dit verdik het.

2. Kry matige kole in ’n skottelbraai gereed. Plaas die ribbes op ’n stuk foelie en bedruip met die pregosous. Plaas die foeliepakkie op die rooster met die been na onder en die vleis na bo. Braai die ribbes in die foelie stadig oor louwarm kole vir een uur. Draai die pakkie ná 30 minute om. (Jy kan die foeliepakkie eers in die oond bak teen 150 ºC en dan braai.)

3. Haal die ribbetjies van die kole af en voeg nog kole by. Haal die foelie af, bedruip die ribbetjies met ekstra sous en braai oor warm kole. Draai gereeld om en bedruip deurentyd totdat die ribbetjies bros is. Bedien die ribbetjies met die orige pregosous, en vars rolletjies vir die sous.