Vir 6-8 | Voorbereityd 5 minute | Gaarmaaktyd 2 uur

Jy benodig

6-8 middelslag-aartappels 
1 bakkie (250 g) crème fraîche*
5 eetlepels botter
1 eetlepel heelkorrelmosterd
½ teelepel sout

Só maak jy

1. Die aartappels moet in ’n enkellaag styf teen mekaar in ’n bak pas. Kies die regte houer vir die aantal aartappels – ’n foeliebak of klein swartboompot werk goed. 

2. Was nou die aartappels goed en prik elkeen ’n paar keer met ’n vurk. Draai hulle styf toe in foelie en sit die aartappels direk op louwarm kole. Draai dit nou en dan om en bak dit vir ongeveer 90 minute of totdat die binnekant van die aartappels baie sag is wanneer jy dit met ’n mes steek.

3. Haal die aartappels uit die foelie (pasop, dis handbrandsake!) en pak hulle in ’n enkellaag in die foeliebak of swartpot. Druk hulle liggies plat sodat hulle langs die kante oopbars en knus in die bak pas.

4. Skep die crème fraîche bo-op die aartappels, stip dit met die botter en mosterd en sprinkel die sout oor. Sit die deksel op die pot of bedek die bak met ’n laag foelie, en bak dit vir 30 minute op ’n rooster.


* Indien jy nie “créme fraiche” in die winkel kan opspoor nie, kan jy altyd jou eie maak:

Meng een koppie room met 3 eetlepels karringmelk of ’n halwe koppie suurroom. Bedek dit en laat dit oornag staan teen kamer-temperatuur.