Ryk en lekker en wárm

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 3 eetlepels botter
  • 2 uie, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 2 teelepels borrie
  • 3 eetlepels kerriepoeier
  • 1 blikkie (410 g) gekapte tamaties
  • 1 koppie bruinasyn
  • ½ koppie bruinsuiker
  • 2 koppies water
  • 1 blikkie (400 g) klapperroom
  • sout en swartpeper na smaak
  • 500 g stokvisfilette, ontdooi

Só maak jy

1. Smelt die botter en soteer die ui en knoffel daarin tot sag. Voeg die borrie en kerriepoeier by en braai dit tot geurig.

2. Roer die tamatie, asyn, suiker en water by en prut die mengsel vir 30 minute.

3. Voeg die klapperroom daarby en verhit dit tot kookpunt. Proe en geur die sous na smaak met sout en swartpeper.

4. Sit die visfilette in die warm pot, sit die deksel op en haal dit dadelik van die hitte af. Laat dit in die warm pot staan vir 15 minute. Die hitte van die sous is genoeg om die vis gaar te kry.

5. Bedien die vis met die sous warm op brood.

Weg Ry & Sleep sê
Die vis is ook lekker koud die volgende dag, net soos piekelvis.