Wonder jy wat is ’n oblietjie? Dis ’n  baie harde beskuitjie, soos ’n brandy snap. Dié tert bestaan uit sjokolade, koekies, roomys, grondboontjiebotter, karamel én toffie – pure bederf! 

Só maak jy

1. Verhit die oond tot 180 ºC. Voer ’n vierkantige bakplaat van 23 x 23 cm met bakpapier of kleefplastiek uit (jy kan ook ’n plastiekhouer met ’n deksel gebruik). Meng die koekiekrummels en botter, en druk die mengsel op die bakplaat se boom vas om ’n digte kors te vorm.

2. Skep die grondboontjiebotter en karamel saam met die room in ’n mengbak en klits dit goed saam tot dit dik word (’n elektriese klitser sal jou ’n tenniselmboog spaar). Skep die mengsel bo-op die kors en sprinkel die grondboontjies oor. Sit die tert vir ’n halfuur in die vrieskas.

3. Haal die tert uit die vrieskas. Sny die roomys oor die lengte in ewe dik stroke en skep dit versigtig as ’n volgende laag bo-op die tert. Maak die roomyslaag met die agterkant van ’n lepel gelyk. Bedek die tert met kleefplastiek of ’n deksel en vries dit tot hard.

4. Nou vir die oblietjies: Voer ’n bak-plaat met bakpapier uit. (Hierdie stap is baie belangrik, want dis ’n taai affêre!) Rangskik 8 toffies op ’n slag op die bakpapier en smelt dit vir ’n minuut of twee in die oond tot sag en loperig, maar nie aangebrand nie. Haal dit uit die oond en laat dit afkoel tot die toffie weer hard is. Smelt al die toffies op dié manier in sarsies en bêre die “oblietjies” in ’n lugdigte houer.

5. Nou raak dinge regtig fênsie: Smelt die sjokolade en drup dit in ’n mooi patroon oor die tert. Laat die sjokolade stol, sny die tert met ’n warm, skerp mes in blokkies en rond elke porsie af met ’n fop-oblietjie bo-op