Foto’s Ed O’Riley

Guacamole

Tjips, hier kom die dip!

Guacamole, tamatiesalsa en suurroom is die drie amigo-souse wat kampvuurkos in ’n Mexikaanse fiësta verander. Guacamole op sy eentjie, voorgesit met tjips of groentestokkies om daarin te doop, is natuurlik ook ’n verruklike peuselhappie terwyl jy wag dat die kole reg is vir braai.

Jy benodig

(maak 1½ koppies)

  • 1 groot ryp avokado
  • 1 eetlepel vars suurlemoensap (of na smaak)
  • 1 eetlepel fyngekapte rooiui
  • ¼ koppie romerige mayonnaise
  • ¼ koppie Griekse jogurt
  • ’n ruim knippie droë gemengde kruie
  • 1 teelepel Tabascosous (of na smaak)
  • ½ tamatie, fyngekap

Só maak jy

1. Sny die avokado middeldeur en haal die pit uit voordat jy die skil versigtig aftrek. Sny die vleis in blokkies en sit in ’n bakkie saam met die suurlemoensap – dit keer dat die avokado bruin word.

2. Roer die rooiui, mayonnaise en jogurt by en geur die mengsel na smaak met sout, peper, droë gemengde kruie en Tabasco.

3. Druk alles met ’n vurk fyn tot ’n growwe guacamole en roer dan laastens die tamatie by. Skep die guacamole in ’n mooi bakkie en eet dit binne ’n uur.

Ry & Sleep sê
Jy kan die Tabasco-sous met fyngekapte vars brandrissie vervang, en die droë kruie met ’n strooisel vars koljanderblare.

Foto: Ed O’Riley
Foto: Ed O’Riley

Quesadillas met hoender, mielie en avokado

Platannas van formaat

Omtower tortillas en oorskietbraaihoender tot ’n middagete duisend.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 2 koppies gepluiste gaar hoender
  • 1 eetlepel fyngekapte ingemaakte jalapeñorissies
  • 1 teelepel elk koljander, komyn en paprika
  • ½ koppie gaar mieliepitte
  • ½ koppie geblikte rooi niertjiebone, afgespoel
  • 2 groot ryp avokado’s
  • 1 eetlepel suurlemoensap
  • 6 middelslag-meeltortillas
  • 3 eetlepels mayonnaise
  • 3 koppies gerasperde kaas – ons het ’n mengsel van mozzarella en wit cheddar gebruik
  • 4 teelepels olyfolie vir vlakbraai
  • tamatiesalsa om voor te sit

Só maak jy

1. Meng die hoender, jalapeño, speserye, mielies en niertjiebone saam tot ’n geurige vulsel.

2. Skil die avokado’s, haal die pit uit en sny die vleis in dun skyfies. Druk die suurlemoensap oor die avokado uit om te keer dat dit bruin word.

3. Smeer die tortillas elk met ’n dun lagie mayonnaise en verdeel die hoendervulsel tussen die ses. Rangskik die vulsel net op die een halwe. Rond nou die hoendervulsel af met ’n paar skyfies avokado, geur dit met sout en peper na smaak, en strooi lekker baie kaas oor elkeen. Vou die tortillas oor die vulsel toe om halfmane te vorm. Druk hulle effens vas.

4. Verhit ’n bietjie olie in ’n dikboompan en braai die toegevoude tortilla-pakkies een-een totdat dit oraloor mooi goudbruin en die kaas binne-in gesmelt is. Hou die hitte matig sodat die tortillas nie te vinnig bruin word voor die vulsel lekker deurwarm is nie. Sit die quesadillas voor met die tamatiesalsa.

Ry & Sleep sê
Vervang die hoender met gaar maalvleis of ham vir variasie. 

Foto: Ed O’Riley
Foto: Ed O’Riley

Avo-en-biltong-aartappelhappies

Fênsie, nè?

Wie sê jy kan nie happiegrootte kanapees maak in die bos nie?

Jy benodig

(maak 24 happies)

  • 24 jong aartappeltjies, goed gewas
  • 3 eetlepels olyfolie
  • 1 teelepel seesoutvlokkies
  • 1 ryp avokado
  • 1 eetlepel suurroom
  • 1 teelepel suurlemoensap (of na smaak)
  • 200 g dun biltongskyfies
  • 6 vars grasuie (of gebruik ’n teelepel droë uievlokkies)

Só maak jy

1. Prik elke aartappeljie twee keer met ’n vurk en sit hulle in ’n bak waarin jy olyfolie en sout gooi – meng alles goed deur. Halveer die aartappels en maak elke hoeveelheid toe in ’n dubbele laag foelie met die blink kant na binne.

2. Braai die foeliepakkies op ’n rooster oor matige kole tot die aartappels gaar en sag is met ’n lekker bros buitelaag (ongeveer 40 minute). Vul die kole aan soos nodig en draai die aartappels elke nou en dan om.

3. Sny die avokado middeldeur, haal die pit uit en trek die skil versigtig af. Meng die vleis van die avokado met die suurroom en geur dit met suurlemoensap na smaak. Gebruik ’n vurk om die mengsel so glad as moontlik te druk óf gebruik ’n staafmenger. Geur die mengsel na smaak met sout en peper.

4. Sny ’n kruisie in elke warm aartappeltjie en druk dit van onder af sodat die sagte vleis effens oppof. Skep ’n skeut gladde avokado op elkeen, rond dit af met biltong en sprinkel laastens grasuie oor.

Ry & Sleep sê
Kook die aartappeltjies in soutwater sag en braai hulle in ’n bietjie olie in die pan bros as jy nie wil bodder met foeliepakkies nie.

Foto: Ed O’Riley
Foto: Ed O’Riley

Knoffelbrood-panzanella

Hou die vampiere weg

Knoffelbrood en avokado gee dié Italiaanse brood-en-tamatieslaai ’n heerlike kinkel.

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 2 eetlepels olyfolie
  • 1 knoffelbroodjie van 20 cm, in blokkies gesny
  • 200 g kersietamaties
  • 1 klein rooiui, in dun ringe gesny
  • 1/3 koppie gekapte pikantrissies (peppadews)
  • 1 klein geel soetrissie, in blokkies gesny
  • 3 groot pruimtamaties, in wiggies gesny
  • 1 eetlepel rooiwynasyn
  • 2 avokado’s, geskil, ontpit en in dun wiggies gesny

Só maak jy

1. Verhit 1 eetlepel olyfolie in ’n dikboompan en braai die broodblokkies tot hulle mooi goudbruin en bros is, amper soos croutons. Skep die brood uit en laat dit op kombuispapier dreineer.

2. Gooi nog olie in die pan en braai die kersietamaties tot die skilletjies oopbars. Roer die ui, pikantrissie en soetrissie by die warm tamatie en haal die pan van die hitte af.

3. Meng die vars tamatiewiggies en broodblokkies saam met die asyn deur die warm tamatiemengsel. Skep die slaai in ’n mooi bord en rangskik die avokadoskyfies bo-op.

Ry & Sleep sê
 ’n Hand vol basilie- of roketblare is ook baie lekker saam met dié slaai.

Foto: Ed O’Riley
Foto: Ed O’Riley

Steurgarnaal-en-wasabi-grondboontjie-taco’s

Boontjie kry sy loontjie

Wasabi en avo is nie net in sushi ’n wenkombinasie nie.

Jy benodig

(genoeg vir 12)

  • 500 g rou steurgarnaalsterte (sonder doppe)
  • 2 eetlepels olyfolie
  • ’n knippie elk droë knoffel, rissievlokkies en gemmer
  • sap van ½ suurlemoen
  • 1 klein koolkop, gesnipper
  • 1 klein komkommer, dungesny
  • ’n hand vol vars koljanderblare, gekap
  • 2 sprietuie, gekap
  • 2 ryp avokado’s, geskil, ontpit en dungesny
  • ½ koppie wasabi-grondboontjies, grofgekap
  • 12 klein meel- of mielietaco’s
  • ½ koppie suurroom

Só maak jy

1. Panbraai die steurgarnale in die olie tot net-net gaar en ligpienk. Geur hulle met die speserye, sout en peper, en sprinkel die suurlemoensap oor.

2. Meng die kool, komkommer, koljander, sprietuie, avokado en grondboontjies om ’n lekker koolslaai te maak.

3. Braai die taco’s vir ’n paar minute direk oor die kole of in ’n droë pan – dit moet goed warm wees sodat dit vars smaak.

4. Smeer ’n lepel vol suurroom in elke taco, skep ’n hopie geurige koolslaai binne-in en rond dit af met 3-4 steurgarnale. Nou’s dit tyd vir weglê!

Ry & Sleep sê
As jy nie vars sprietuie en koljander vir jou koolslaai byderhand het nie, gebruik gerus gerasperde wortel om die slaai op te dollie. As jy nie suurroom het nie, is romerige mayonnaise ook ’n wenner.

Foto: Ed O’Riley
Foto: Ed O’Riley

Ontbytbroodjies met byt

Braai, braai, al aan die een kant

As jy nie van warm avokado hou nie, kan jy die spek apart braai en die avokado net so op die broodjies pak.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 2 ryp avokado’s
  • 4-8 repe strepiespek
  • 2 eetlepels olyfolie
  • 4 teelepels srirachasous (of gebruik Lawmans Mexican Original Hot Sauce)
  • 4 broodrolletjies of roosterkoek
  • 4 saggekookte eiers, afgedop
  • regte botter om te smeer

Só maak jy

1. Skil die avokado’s en sny hulle middeldeur. Haal die pitte uit en geur die halwes na smaak met sout en peper. Draai nou ’n reep of twee spek om elkeen en steek hulle met ’n tandestokkie vas om die lotjie bymekaar te hou.

2. Panbraai die spek-avokado’s in die olyfolie tot die spek mooi goudbruin en gaar is. Verf die sous oor die spek en braai dit vir nog ’n minuut oor die hitte tot glansend – sorg net dat die sous nie skroei nie. Trek die tandestokkies uit.

3. Sny die broodjies middeldeur en rooster die gesnyde kante oor matige kole (of in ’n droë pan) tot dit ’n mooi kleurtjie kry. Smeer ’n dik laag regte botter aan elkeen.

4.Pak nou ’n gebraaide spekbedekte avokadohalwe en saggekookte eier bo-op elke broodjie en sit die broodjie se ander helfte op. Eet dit dadelik!

Ry & Sleep sê
Ons het onlangs kennis gemaak met Lawmans Mexican Original Hot Sauce, ’n produk wat op eie bodem in Durban vervaardig word. As jy hou van ’n rissiesousie, is dié een heerlik op amper alles.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook