Rys en lekker!

Jy benodig

(maak omtrent 18 bolletjies )

  • 2 eetlepels botter
  • 1 koppie langkorrelrys (ons het jasmynrys gebruik)
  • 2 koppies melk
  • 1 koppie water
  • ¼ koppie suiker (opsioneel)
  • 1 stokkie pypkaneel
  • ½ koppie kondensmelk
  • 2 pakkies (200 g elk) Marie-beskuitjies, fyngekrummel
  • 2 eiers, geklits olie vir diepbraai karamelsous om voor te sit

Só maak jy

1. Smelt die botter in ’n pot en braai die rou ryskorrels tot dit oraloor mooi bruin word. Roer die melk, water, suiker en pypkaneel by en verhit die mengsel tot kookpunt. Draai die hitte tot baie laag en prut die mengsel tot dik en romerig (15-20 minute). Haal dit van die hitte af en roer die kondensmelk by. Laat dit afkoel.

2. Sodra die poeding koud is, vorm die rys in hapgrootte bolletjies. Rol die bolletjies in die koekiekrummels, doop dit in die eier en en dan laastens ’n tweede keer in die krummels. Herhaal tot al die happies gevorm is.

3. Verhit die olie en diepbraai die bolletjies tot die koekielaag bros en die rys warm is. Hou die olie se hitte matig; die bolletjies is reeds gaar en jy wil nie die krummels te donker laat braai nie. Sit dit warm voor met ’n skeutjie karamelsous of die ekstra kondensmelk in die blik.

Ry & Sleep sê
Gebruik gerus ekstra fyn kaneel na smaak as jy die poeding maak