Vir 12  |  Voorbereityd 15 minute  |  Gaarmaaktyd 15 minute

Jy bak hierdie sjokoladepoeding in ’n muffinpan en vries die porsies wat jy nie dadelik gaan gebruik nie. Die lekkerte is dat die middel loperig bly en die buitekant soos ’n brownie bros bak.

Jy benodig 

  • 1¼ koppies (315 ml) botter, plus ekstra
  • 2¼ koppies suiker
  • 1½ koppies donker kakaopoeier (onversoet)
  • 2 teelepels vanieljegeursel
  • 1 eetlepel water
  • ¾ teelepel sout
  • 4 eiers, koud
  • 2/3 koppie (90 g) koekmeel, plus ektra
  • 1¾ koppie gekapte pekanneute
  • 80 g donkersjokolade, in blokkies gebreek

Só maak jy

1. Voorverhit die oond tot 160 °C. Smeer ’n muffinpan met ekstra botter en besprinkel dit ook met ’n bietjie meel. Skud dít wat nie vaskleef nie, uit. 
(Hierdie stap is belangrik as jy die poedings later mooi uit die pan wil lig.)


2. Smelt die botter in ’n ’n middelslag kastrol en laat dit borrel en effens verbruin. 
(Die verbruinde botter gee die poeding ’n ekstralekker geur.) Verwyder die kastrol van die hitte en roer dan dadelik die suiker, kakaopoeier, vanieljegeursel, water en sout daarby. Laat dit vir 5 minute eenkant om af te koel.


3. Klits die eiers een op ’n slag by die mengsel in. Roer dan die meel deeglik deur die mengsel en vou daarna die neute in. 


4. Skep die mengsel in die muffinpan. Druk van die sjokoladeblokkies in die middel van elke poeding.


5. Bak die poedings nou vir 15 minute. Verwyder, en laat hulle vir 10 minute in die pan afkoel voordat jy dit – baie versigtig, onthou die middel is loperig! – uitlig. Sit dit voor met room of roomys.  


WENK: Die poedings wat oorbly sal 3 dae in die yskas in ’n Ziploc-sakkie hou. Of vries dit en verwarm hulle net weer op ’n ander dag vir sowat 10 minute in die oond.