Die winter kruip nader en elke wynliefhebber in die land hou duim vas dat dit ’n lang en nat seisoen sal wees – in die Wes-Kaap veral – anders gaan ons almal in die moeilikheid wees wat volgende jaar se oes betref...

Die meeste mense trek in die winter rooiwyn nader, maar daar is ’n paar wit variëteite wat kan warmte gee – veral dié wat in ’n ryker styl gemaak word met subtiele eikehout. Hier is ’n paar minder bekende witwyne om dié winter te probeer terwyl dit (hopelik!) buite sous.

As dit koud is buite, is daar min wat by ’n goeie chardonnay kan kers vashou. Die Hartenberg Chardonnay 2016 (R115) is inderdaad baie goed – veral teen dié prys. Hartenberg is waarskynlik meer bekend vir sy uitstekende shiraz-reeks, maar die wynmaker Carl Schultz het deur die jare ook die kuns vervolmaak om met eikehout te werk.

Só maak hy uitstekende witwyn soos die The Eleanor Chardonnay, en dié een. Die Hartenberg Chardonnay het subtiele eikehout wat goed balanseer met romerige geel vrugte, en ’n tikkie botteragtige speserye in die nasmaak.

Daar is altyd ’n chenin blanc wat die ding kan doen – maak nie saak wat die weer of geleentheid is nie. Met die seisoene wat verander, is dit tyd om die Carl Everson Chenin Blanc 2016 (R175) van Opstal te probeer.

Daar is altyd ’n chenin blanc wat die ding kan doen – maak nie saak wat die weer of geleentheid is nie.

Opstal is een van my gunsteling-produsente omdat hy nie net maklike drinkwyne maak wat goeie waarde vir geld is nie (kyk ’n bietjie na die Sixpence-reeks), maar ook wyne soos dié een: elegant en stylvol, ’n mond vol fluweelagtige vrugte met ’n goeie skeut room en speserye.

Ek is seker jy weet van pinot noir en pinot grigio, maar het jy al van pinot blanc gehoor? Dis redelik skaars in Suid-Afrika, maar dis die moeite werd om dit te soek vir die vrugtige geure en suurheid met byt.

Die Lanzerac Bergpad Pinot Blanc 2016 (R190) is een van net twee wyne wat pinot blanc as ’n enkelvariëteit In Suid-Afrika gebruik. Ek is gaande oor die wyn se greinerige tekstuur – soos ’n ryp, sappige peer – wat dit die ideale pasmaat maak vir ’n braaihoender.