Foto: Shelley Christians

Vir 1 groot potbrood

Voorbereityd 30 minute plus rystyd

Gaarmaaktyd 50 minute

Jy benodig

• 6 koppies koekmeel, plus ’n bietjie ekstra vir knie

• 20 g kitsgis

• ¼ koppie bruinsuiker

• 1 eetlepel sout

• sowat 2 koppies louwarm water

• ½ koppie olie

• 1 eier

• sowat 1 koppie karamelsuiker

• ½ koppie gesmelte botter

Só maak jy

1 Meng die meel, gis, suiker en sout in ’n groot mengbak saam. Maak ’n holte in die middel en voeg die water, olie en eier by. Meng die droë bestanddele geleidelik met sirkelbewegings van jou hand by die nat bestanddele in totdat die mengsel te dik word om verder te kan “roer”. Knie nou die deeg tot glad en elasties en nie meer klewerig nie. Strooi ekstra meel oor soos nodig.

2 Vorm die deeg in ’n bal, sit dit in ’n geoliede mengbak en bedek met ’n klam, skoon vadoek. Laat staan dit op ’n warm plek om tot dubbel die volume te rys.

3 Smeer ’n groot platboompot met die gesmelte botter. Breek gholfbalgroot balletjies deeg af, rol elkeen in die karamelsuiker en pak dit in die pot. Onthou, die deeg gaan weer rys – moet dus nie die pot meer as twee-derdes volpak nie.

4 Gooi weer die klam vadoek oor die potjie en laat dit staan om te rys.

5 Sit die pot se deksel op en bak die brood sowat 50 minute (of tot gerys en gaar) oor matige kole met ’n paar kooltjies op die deksel. Giet die orige botter bo-oor en geniet!

WENK

Vir ekstra bederf kan jy 1½ koppie room onderin die gesmeerde pot skink voordat jy die broodbolletjies inpak. Die suiker sal dan nie net ’n stroop om die bolletjies vorm nie, maar ’n ryk karamel.