Bielie van ’n mieliepot

Hierdie resep is so oud soos die berge, maar hier kry hy jogurt en srirachasous by om hom meer skop te gee én gesonder te maak.

1. Smelt die botter in ’n 20 cm-platboompotjie of swaarboompan met ’n deksel en soteer die uie daarin tot dit sag en glansend is.

2. Klits die eiers saam met die mielies, jogurt, srirachasous en die helfte van die kaas in ’n mengbak. Geur dit na smaak met sout en peper en krap dit uit in die potjie.

3. Sit die deksel op en sit die potjie oor louwarm kole – onthou ’n paar kooltjies bo-op die deksel. Bak dit vir 30 minute (of effens langer) tot gestol.

Weg Ry & Sleep sê

Vir ontbyt kan jy 3 gekapte gaar varkworsies of ½ koppie gaar spek deur die mengsel roer voordat jy dit bak.