Die vinnigste manier om perfek gegeurde frikkadelle te maak, is om ’n rol van jou gunstelingwors se derm oop te knip, die vleis uit te druk en dié in bolletjies te rol. 

1. Druk die worsvleis versigtig uit die derm en vorm klein frikkadelle. Verhit olie in ’n groot pan en braai die frikkadelle tot oraloor goudbruin. Roer die ui, tamaties en ryskorrels daarby in en braai alles saam tot die rys liggies gerooster is.

Geur dit met sout en peper en roer die aftreksel by. Sit die pan se deksel op en laat dit vir sowat 10 minute prut (of tot al die vloeistof geabsorbeer en die rys so te sê gaar is).

2. Sny die soetrissies middeldeur, krap die pitjies en membrane uit en braai die halwes oor taamlike warm kole tot sag. (Jy kan die soetrissies ook vir 10-15 minute onder die oond se roosterelement bak, met die gesnyde kant na bo.)

3. Roer die feta deur die geurige rys en skep dit in die holtes van die gaar soetrissies. Rangskik die gevulde groente in ’n swartpotjie met ’n deksel en bak dit vir sowat 15 minute oor die kole (of in die oond). Sprinkel ’n paar granaatpitte oor vir ekstra knars en val weg terwyl dit warm is.