Vir 4 |Voorbereityd 30 minute | Gaarmaaktyd 4 minute

Jy benodig

• 800 g garnale
• 1 sitroengrasstokkie
• 1 groenrissie, pitjies uitgeskraap
• 4 knoffelhuisies
• 5 eetlepels soet rissiessous
• 5 eetlepels sojasous
• sap van ½ lemmetjie
• 4 bamboes- of houtsosatiestokkies, geweek

Só maak jy

1. Maak die garnale skoon en verwyder die dermpie, kop en dop. (Jy kan ook garnale koop wat klaar skoongemaak is – maak net seker dit is heeltemal ontdooi voor jy met die resep voortgaan.)

2. Kap die sitroengras, rissie en knoffel baie fyn saam – of gebruik ’n stamper en vysel om ’n smeer te maak. Meng dit met die soet rissiesous, sojasous en lemmetjiesap.

3. Skink die marinade oor die garnale en laat dit vir 30 minute staan. Ryg die garnale dan op die bamboesstokkies.

4. Sorg dat die rooster goed skoongemaak is en smeer dit met ’n geoliede lappie. Braai die sosaties vir sowat 2 minute oor matige kole voordat jy dit omdraai en die ander kant ook vir 2 minute braai. Verf die heeltyd van die marinade aan wat in die bak oorgebly het.