Kosassistent Tani Kirsten

Appelkoostroos

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 50 ml olie
  • 8 hoenderporsies (ons het dytjies en boudjies gebruik)
  • 1 groot ui, in skyfies gesny
  • 2 rooi soetrissies, in repe gesny
  • 1 sakkie (415 ml) soetsuur sous (ons het Royco Sweet & Sour Cook-in Sauce gebruik)
  • 150-250 ml hoenderaftreksel
  • 10 droë appelkose
  • sout en swartpeper na smaak

Só maak jy

1 Verhit die olie in ’n swartpot en braai die hoender vinnig daarin bruin. Skep die hoender uit en hou dit eenkant.

2 Braai die ui tot sag. Roer die soetrissies daarby in en braai dit vir nog 2 minute saam. Gooi die soetsuur sous daarby en skep dan die hoender terug in die pot. Gooi net genoeg van die aftreksel by om die hoender te bedek. Sit die deksel op en prut die pot vir 30-45 minute oor matige hitte tot die hoender amper gaar is. Deur die pot stadig te prut maak jy seker die hoender kom van die been af los eerder as dat dit taai en droog word.

3 Roer die droë appelkose by en prut die pot vir nog vir 15 minute totdat die hoender sag en gaar is. Sit dit voor met rys.

Weg Ry & Sleep sê
Hoender met die vel en been is altyd smaakliker as die ontvelde en ontbeende soort. Vir hierdie resep werk dytjies en boudjies die beste.