Vir 4-6 | Voorbereityd 20 minute plus marineertyd | Gaarmaaktyd 50 minute


Jy benodig

VIR DIE APPELSIDERSOUS
• 2 koppies appelsider (Savanna Dry)
• ? koppie bruinsuiker
• ½ groenappel, gekap
• 1 eetlepel appelasyn
• 1 teelepel droë salie
• ¼ koppie olyfolie

VIR DIE EEND
• 2 groot eendborsies
• sout en swartpeper
• 1 eetlepel olyfolie

VIR DIE SLAAI
• 4 repe gerookte dikspek (smoked pork rashers) of pancetta, in stukkies gekap
• 1 eetlepel olyfolie
• 1 knoffelhuisie, fyngekap
• 500 g spruitkool, in skyfies gesny
• ½ rooiui, fyngekap
• 3 eetlepels bruinsuiker
• ¼ teelepel sout
• ’n hand vol pekanneute, drooggerooster
• ½ suur groenappel, in dun skywe gesny
• 1 soet rooiappel, in dun skywe gesny

Só maak jy

1. Maak eers die appelsidersous deur die appelsider, bruinsuiker en gekapte appel in ’n middelslagpotjie tot kookpunt te verhit. Laat dit vir 5-10 minute prut. Haal die sous van die hitte af, voeg die asyn en salie by, en druk die appel fyn. 

2. Sny ’n kruispatroon in die eendborsies se vel sonder om in die vleis te sny, en vryf die borsies met sout en peper in. Verhit ’n gietysterpan of platboompot oor matige hitte op die stoof en gooi die olie in. 

3. Plaas die borsies met die velkant na onder in die warm pan of pot en braai dit vir sowat 5 minute totdat die vel ’n diepgoue kleur kry. Gooi dan die meeste van die vet af, draai die borsies om en skink dadelik ’n kwart van die appelwynsous oor. 

4. Stowe die borsies vir ongeveer 5 minute: Draai dit vir 2 minute terug op die velkant en dan weer vir 3 minute terug op die vleiskant totdat dit mediumgaar is. Skep dit uit en laat dit vir 10 minute rus voordat jy dit in dun skyfies sny.

5. Was die pan uit en braai die spekstukkies tot bros. Skep die spek uit en gooi die meeste van die vet af. Voeg die olyfolie, knoffel, spruitkool en ui in die pan en braai dit vir sowat 3 minute terwyl jy die pan elke nou en dan ’n skud gee sodat dit nie vasbrand nie. Sprinkel dan die suiker en sout oor. Roer dit ná 1 minuut deur en laat dit dan vir 3-5 minute karamelliseer totdat die kool heldergroen en gaar is.

6. Skep die kool op ’n bord uit, sprinkel die neute, appelskyfies en die bros spek oor en rangskik skyfies eend bo-op. Meng die res van die appelsidersous met die ¼ koppie olyfolie en giet dit oor die slaai. 

WENK:
Nie lief vir spruitkool nie? Vervang dit met groenbone, broccoli of blomkoolblommetjies en volg dieselfde metode.