Luilekker laatontbyt

Jy benodig

(genoeg vir 6)

  • 12 repies gerookte spek
  • 6 stewige broodrolletjies
  • oorskietpotjiekos (al is dit net sous)
  • 6 eiers

Só maak jy

1. Steek die vuur aan en maak so gou as moontlik kole, want die mense is honger!

2. Braai die spek lekker bros in ’n platboompotjie wat groot genoeg is sodat al die rolletjies knus daarin kan pas.

3. Sny ’n gaatjie in die bokant van elke rolletjie en hol die binnekant uit. Skep ’n lepel vol oorskietpotjiesous in elke rolletjie en sit twee repies spek in elkeen.

4. Pak die gevulde rolletjies in die spekvet-gesmeerde pot en breek dan versigtig ’n eier in elkeen se holte.

5. Bak die eierbroodjies deur ’n paar kole onder die pot én op die deksel van die toe pot te sit sodat dit die pot amper in ’n oondjie verander.

Weg Ry & Sleep sê
Pak ’n blikkie ekstra braaismoor in, ingeval die pot opgeëet word. ’n Tamatiegeurtjie saam met die eiers is glad nie te versmaai nie.