Rol ’n repie dun spek om elke stukkie boerewors en braai dit dan oor die kole. Knyp dan die gaar wors saam met ’n paar skyfies kaas in ’n gebotterde broodrolletjie toe sodat die kaas kan smelt. Skep ’n bietjie bier-en-sampioensous of tamatiesmoor bo-oor.


Bier-en-sampioensous


Maak 2 koppies | Voorbereityd 10 minute | Gaarmaaktyd 20 minute


Jy benodig

• gemaalde swartpeper na smaak
• 6 eetlepels botter (plus ekstra)
• 1 ui, gekap
• 1 pakkie (250 g) bruinsampioene, gekap
• 4 knoffelhuisies, gekap
• ½ koppie milk stout of ander donker bier
• ½ pakkie bruinuiesop
• 1 eetlepel suiker
• 1 eetlepel asyn


Só maak jy

1. Maal die swartpeper direk in ’n warm pan, voeg die helfte van die botter by en braai die ui vir ’n paar minute daarin.

2. Voeg die res van die botter, sampioene en knoffel daarby en braai dit vir minstens 5 minute.

3. Gooi die bier by en laat dit vir ongeveer 10 minute prut totdat die helfte van die vloeistof verdamp het.

4. Voeg die res van die bestanddele by en laat dit prut totdat die sous dik en donker is. Voeg nog botter by indien verkies.