Hierdie is een van die beste maniere om varklies (pork belly) gaar te maak: Die vel raak bros en krakerig, en die vleis smelt in jou mond. 

1. Sny ’n kruispatroon in die vel, maar nie al die pad deur tot in die vleis nie. Vryf die varklies oraloor met growwesout in. Draai dit toe in kleefplastiek en sit dit dan oornag in die yskas.

2. Spoel die volgende dag die vleis af en druk dit goed droog met kombuispapier. Kap al die kruie en knoffel baie fyn en meng dit met die olyfolie (jy kan ’n voedselverwerker gebruik). 

3. Sit die vleis met die vel na onder neer en druk die kruiemengsel op die vleiskant, amper soos ’n kors. 

4. As jy dit braai: Braai die lies met die velkant na onder oor warm kole vir ongeveer 1 uur of totdat die vel bros en krakerig is. Wees versigtig dat jy dit nie swart brand nie. 

Maak genoeg kole in ’n ketelbraai vir matige hitte en krap dit na die kante toe. Sit ’n metaal- of foeliebak in die middel van die rooster. Gooi die wyn by en sit dan die vleis met die velkant na bo daarin. Sit die deksel op en bak dit teen matige hitte vir 2 uur totdat die vel heeltemal droog is en die vleis sag en sappig is.

Jy sal waarskynlik elke nou en dan nog ’n briket of twee moet bysit sodat die kole nie doodgaan nie. Die kole moet net-net warm genoeg gehou word dat die vleis aanhou om stadig gaar te word. As jy jou hand bo die kole hou, behoort jy dit eers ná so 8-10 tellings te wil wegruk. 

As jy ’n oond gebruik: bak die lies op die middel rakkie van die oond met die vel na bo teen 200 °C vir ’n uur. Maak seker die vel braai mooi bruin en brand nie swart nie Verwyder en verminder die oond temperatuur na 160 °C. Bak die lies verder ’n uur en draai dan die tempertuur verder af na 120 °C vir die laaste uur. Hoe stadiger die kooktyd, hoe lekkerder die varkies.

5. Gebruik ’n skerp mes en sny die vel los van die vleis. Sny die vel dan in stukke. Sny dan porsies van die varklies en sit dit voor met stukke krakerige vel, blomkoolfluweel (resep hiernaas) en knoffel wat jy in foelie saggebraai het.