’n Klein bietjie moeite met dié bolletjies bokmelkkaas omtower ’n  gewone steakslaai in iets besonders. Verpak die bolletjies apart – dit sal ’n paar dae goed in die yskas hou – en pak dit op die slaai net voor bediening.  

1. Rooster die sesamsaad in ’n pan tot geurig.

2. Rol die bokmelkkaas in bolletjies en rol dit dan in die sesamsaad. Pak in ’n Tupperware-bak en bêre in die yskas.

3. Geur die steak na smaak met sout en gemaalde peper en braai dit tot mediumgaar. Laat die steak rus en sny dit in dun skyfies.

4. Braai die spek tot bros. Sny in stukkies.

5. Plons die groenbone vir ’n paar minute in kokende water tot heldergroen, en spoel dit dan dadelik onder koue water af.

6. Kook die orzopasta volgens die instruksies op die pakkie, dreineer en hou eenkant. Meng die knoffel, rooiui, kappertjiesaad en soetrissie goed daardeur.

7. Rangskik die spinasie, groenbone, steak, spek en orzo in ’n bak en bedruip die slaai met olyfolie en balsemiekasyn na smaak. Garneer met die kaasbolletjies en bedien.